Nie my kind nie
Dr Ray Eberlein
“Ag, sies tog! Hy was tog so jonk”, sê die dame in die deftige donker pakkie, terwyl sy haar oë met die kleinste wit snesie afvee .
Die tiener in skool uniform draai effens om. Hy is nuuskierig en die begrafnis is vervelig, die dominee praat so lank oor Hermaans, maar hy is seker dat hy hom buite die katkisasie klas nie geken het nie. Die dame verwyder die snesie lank genoeg om stilweg te vra, “Waaraan is hy dan dood?”
“Dwelms, tannie. Hy’t ‘n oordosis heroïene in.” Hy stel dit kras want die nuuskierige vrou het ook nie vir Hermaans geken nie. In haar donkerpak, vooroorgebuig en langneus diep in die snesie, herinner sy vir hom aan ‘n aasvoël.
Sy staar hom stip aan. Hy beweeg nie, staar terug, hy’t niks om te verloor nie. Hermaans is weg. Niks kan hom terugbring nie, maar hy laat hom nie deur so ‘n vrou afskrik nie.
“Heroïne! Het sy Mammie dan nie geweet hy’s verslaaf nie? Sy moes seker opgemerk het. Dit is mos so maklik!”
“Nee tannie, sy het nie. Hy’t mos baie slim geword oor die jare. Die dagga eerste, en dan die “coke” en die “crack” en nou laas die naald. Hy’t geleer hoe om die goed weg te steek.
Sy Ma-hulle het nooit gedink hy’s besig met sulke dinge nie. Hulle was te besig met hulle eie ding, met werk en partytjies en rugby en dop.
Hulle het nooit in sy kamer gekom nie, nooit gesien as sy oë rooi geword het van die zol, of hoe hy stadiger beweeg het vandie sakkie en dan die naald nie. Hy was te slim vir hulle.
Hy’t geleer om Ecstacy te gebruik om die dagga teen te werk en sy Ma se slaap pille gesteel om normaal te kan lyk na die Rave van die naweek.
Nee, hy was te slim of nie slim genoeg nie. Hulle het nie besef dat hy sy Pa se kar laat steel het nie, en ook die TV en die video, speler. Haar juwele is nie deur ‘n ander dief as hy gesteel nie.
Hy’t later ook self gehandel in die goed, die dwelms bedoel ek. Hy moes dit doen toe hulle niks oor gehad het om te steel nie, en die assuransie, ouens nie weer wou uitbetaal nie.”
Haar mond hang oop, die snesie vergeet. Hy gaan aan, hy’t dertig-duisend Rand ‘n dag oorgehandig aan sy “dealer”, en daarvoor is hy in dwelms betaal.
Na ‘n tyd is daai drie,duisend Rand se dwelms wat hy gekry het nie genoeg vir selfs een dag nie, en hy moes begin spuit waar dit die vinnigste sou werk en waar hulle nie sou sien nie.
Hy’t in sy oogbol begin in spuit.
Sy sidder en word vaal. Vir ‘n oomblik lyk dit asof sy gaan omval. Hy help nie.
Sy trek diep asem.
“Dank die Vader, Dit is nie my kind nie. Ek sou onmiddelik geweet het!”
Hy kyk na die jong dogter wat langs haar staan. Ten spyte van die snikhitte dra sy ‘n langmou hemp by haar skoolromp, en toerygskoene op haar voete.
Sy kyk vlugtig na hom en laat sak haar kop.
Hy weet.
Die moue versteek die naaldmerke op haar arms, en die skoene die swart kolle tussen haar tone. Sy skud haar kop effens. “Moet niks sê nie” pleit die oë. Hy draai weg.
Hy sal nie nou iets sê nie, besluit hy, maar later wel. Sy oom is betrokke by die CAD, die Christelike Afhanklikheidsdiens, en hy sal vir hom vertel.
Sy oom sal weet wat om te doen. Ma ook, nou dat dit amper te laat is.
Die CAD het vir Ma gehelp toe dit blyk dat Ma ‘n drankprobleem gehad het.
Hulle het vir haar gehelp om seker te maak van die probleem, en om haar te oortuig om te gaan vir behandeling.
Sy was vir vyf weke weg, en hy en Pa en Ouboet het in die laaste week vir haar gaan kuier daar by die Rehabilitasie,sentrum.
Hy onthou nog hoe die hele familie uitgenooi is om in die Rehabilitasie program deel te neem. Hulle sou blykbaar daar leer hoe om sy Ma en hulle probleem te hanteer.
Hulle is ook deur die CAD uitgenooi is om hulle weeklikse vegaderings by te woon. Sy Pa het gedink dis ‘n klomp snert en het geweier om te gaan. Hy en Ouboet moes natuurlik sy bevel gehoorsaam.
“Vir wat moet ek my verneder voor ‘n klomp suiplappe en ‘druggies’ ” het hy gevra. “My kinders het nie probleme nie. Jou Ma se probleem sal ook vanself regkom. Hoor wat ek sê!”
Gelukkig het Ma nie geluister nie, dink die tiener.
Nou is sy weer die Ma wat hy as jong kind geken het. Opgewek en vrolik, stel belang in almal en alles.
Jammer Ouboet het verdwyn kort na sy vir behandeling gegaan het. Hy sou ook bly gewees het.
Die Dominee het klaar gepraat.
Die tiener vat sy Ma se hand en hulle loop saam, saam na die oop graf. Hy voel hoe die trane begin loop, en hou haar hand styf vas terwyl hy in die mandjie vroetel vir die roosblare.
Hy lig sy hand op en strooi die blare oor die nuwe houtkis.
“Totsiens, Ouboet”