GETUIENIS: PIKKIE & RENé COMBRINCK
EK EN MY MAN EN LEPEL-Lê
(Geskryf deur Pikkie Combrinck)
Ja lepellê is lekker, maar nie met alkohol nie! Ek het geweet dit lê tussen my en my man René, maar soos hy die lepellê alkohol getroetel en beskerm het, het ek ook maar meegedoen. In die begin, omdat ek nie seker was of hy regtig alkohol misbruik nie en omdat ek die vrede wou bewaar en my kinders wou beskerm… wat sal die vriende, bure en familie sê?
Daarom het ek niks gedoen nie!
Ek het later besef dit is nou nie meer lepellê en toemaak onder die kombers nie. Alkohol is nou BAAS in ons huis. Dis nou tyd om hulp te soek. Wie vra jy? Wie sal verstaan? Hy’s dan so ‘n “nice” ou. Ja hy drink, maar alle mans drink mos. As jy drink voor jy gaan slaap en skelm MOET drink as jy soggens opstaan om van die ergste “shakes” ontslae te raak, moet jy weet die SKRIF IS AAN DIE MUUR. Toe lê ons nie meer lepel met alkohol nie. Hy lê nou lepel met ons en is ons BAAS. Dit het ons hele huisgesin se lewens sleg beïnvloed.
Ek het geweet ek moet iets drasties doen, maar het elke keer die verkeerde keuse gemaak. Eers het ek mooi gepraat maar uiteindelik is beskuldigings heen en weer geslinger, wat niemand goed gedoen het nie. So kon ons nie die probleem met mekaar uitpraat nie. Almal loop vol skuldgevoelens rond. Die verslaafde voel skuldig oor dit wat hy doen en hy laat jou weer skuldig voel; want êrens doen jy iets verkeerd… waarom anders drink hy dan tog so? So word dit ‘n bose kringloop. Dan BELOWE hy weer dat hy sal ophou, WANT HY KAN MOS. Vandag weet ek hy was onder meer bang vir die onttrekking wat hy in sy onkunde gedink het hy sou moes deurgaan. Hy het gedink ons sal alle drank summier verwyder as hy erken hy het ‘n probleem!
Drie dae later dan begin die bose kringloop maar weer van voor af. Nou weet ek wat die regte metode is: DIE INGRYPINGSMETODE.
‘n Klop aan die deur een aand het nuwe deure vir ons oopgemaak. Ek is daardie aand deur die Heilige Gees gelei om eerlik te wees met my man se werkgewer, en was dit die draai in ons lepellê verhouding. My man was meer verbaas as ek om hom te sien. Om ‘n lang storie kort te maak; sy werkgewer het besef dat René ‘n drankprobleem het en wou hom graag help. René het dit natuurlik ontken en het pleitend na my gekyk om hom tot hulp te kom. Maar daardie aand was ek eerlik en het die probleem oopgevlek om ontleed te word. Al het ek ook hoe skaam gevoel! Die skok en verbasing op my man se gesig toe ek teen hom draai, sal ek nie maklik vergeet nie.
Getrou soos die Here is, het Hy gesorg dat dit die begin van sy breek metalkohol was.
En nou, 33 jaar later kan ek net sê: Baie dankie Here! Ons lepellê nog steeds graag, maar met mekaar, beslis nie met alkohol nie. Dankie tog dat daar ‘n ingrypingsmetode bestaan, soos wat in die boek omskryf word. DIT WERK!
Lesse wat ek saam met lepellê alkohol geleer het:
1. ‘n Gerehabiliteerde verslaafde noem ons nie meer ‘n alkoholis nie, maar ‘n gerehabiliteerde.
2. ‘n Gerehabiliteerde afhanklike, is ‘n wonderlike Pa, man en vriend.
3. Moet nooit jou man sleg maak by jou kinders nie. Alkohol is die sondebok.
4. As hy sy kant bring; al weet jy dit gaan net 2 dae hou, staan hom by, bemoedig hom en sê julle is trots op hom.
5. Wanneer die gerehabiliteerde uit die inrigti ng kom of self ophou drink, is alles nie sommer net maanskyn en rose nie. ‘n Lang pad lê nog voor. Wees geduldig!
6. Jy moet leer om hom weer onvoorwaardelik te vertrou.
7. Sekere pligte en besluite moet hy nou weer oorneem en jy moet terugstaan.
Stilstuipe was met tye ‘n groot probleem wat hy ervaar het en dan kon hy weer by ander geleenthede nie ophou vertel hoe lekker dit sonder drank is nie. Dit gebeur maar.
Kry ‘n stokperdjie – doen dinge saam, want skielik het hy baie vrye tyd.
Belangrikste van alles:
Wees lief vir hom en ondersteun hom!
René – Verlossing van alkohol afhanklikheid
Ek was gelukkig om in ‘n Christen huis groot te word, een van vier kinders. In die vyftig en sestiger jare was ons gelukkig dat jou ouers, hul vriende asook jou maats, meestal christene was en het jy maklik die goeie weg gevolg. Op die ouderdom van 12 het dan ook ek na ‘n pinksterdiens Jesus Christus as my Saligmaker en Verlosser aangeneem. My geestelike lewe was sterk geanker in Jesus en dit het goed met my gegaan.
Daar was egter ‘n probleem: Ek het gehakkel. In die laerskool het die onderwyseresse my gehelp deur my nie te vra om in die klas te lees of om vrae te beantwoord nie. Op hoerskool het ek die probleem uitgebuit en het die onderwyser/esse later ook van my verwag om nie te praat nie. Heerlik! Toe hoef ek nie meer leerwerk te doen nie!
In Std 9 (Graad 11), het ek en van my vriende een aand ‘n bottel Vodka in die hande gekry. Dit was een van die wonderlikste ervarings wat ek tot op daardie stadium gehad het. Vir die eerste keer in my lewe kon ek praat sonder om ‘n woord te hakkel! Dit effek was alkohol veroorsaak het, was fantasties! Dit het gevoel of ek “ontspanne” was, in absolute beheer van myself.
Daar was insedente na matriek waar ek alkohol misbruik het, maar dit het nie gereeld voorgekom nie. Ek het vir die Universiteit en later vir Oud Studente klub rugby gespeel. Dit was belangrik dat ek fiks moes bly en het ek in seisoen nie aan alkohol geraak nie. Maar tussen seiseone het ek laat waai! Toe moes ek alreeds die gevaarligte sien.
In 1971 is ek met Pikkie Kraynauw getroud. Alhoewel sy ‘n wonderlike vrou was (en nogsteeds is), het my drinkpatroon ongelukkig nie verander nie. Inteendeel, my drinkery het geleidelik so toegeneem, totdat dit in 1975 ‘n punt bereik het waar ek elke dag MOES drink. Dit is ongelooflik sleg as jy weet jy is vasgevang, maar kan nie los kom nie. My werk, gesin, vriende en veral my verhouding met Jesus Christus het daaronder gelei, maar al het ek in alle opregtheid probeer om op te hou, het ek verskeie kere maar weer teruggeval.
Beloftes om op te hou word verbreek. Jy lieg en bedrieg oor jou drinkery. Jy leer om skelm te word. Jy drink alleen. Jy het altyd ‘n bottel erens; onder die motor sitplek, in die tuin tussen plante, in die opgerolde mat, in jou lessenaar by die werk – orals!
Gelukkig het die bestuurder waar ek in diens was my een aand tydens ‘n funksie gesien toe ek skelm uit die motor se bagasiebak gedrink het. Hy het my toe in 1977 by die huis daarmee kom konfronteer en vir die eerste maal het Pikkie met die waarheid uitgekom. Ek was moeg vir die alkohol en wou al lankal ophou maar was bang vir die onttrekking. Nogtans het ek ingestem om hulp te kry.
Ek kon weens my werk nie gaan vir voltydse behandeling nie en het saans na ‘n inrigting gegaan waar ek die nodige medikasie en bemoediging ontvang het. Maar dit w as nie maklik nie. In die begin het ek van uur tot uur uitgehou om nie terug te val nie, maar het tog ‘n paar maal geval. Later het dit beter gegaan en het ek net tot middagete vas gebyt en dan weer tot slapenstyd uitgehou. Gelukkig het Jesus Christus my opregtheid raak gesien en my op 15 Oktober van daardie jaar finaal verlos.
Ek was so ernstig om nie weer te drink nie en het Dinsdae-, Woensdae- en Vrydaeaande byeenkomste bygewoon. Met die hulp van Jesus en ook vriende by die CAD (Christelike Afhanklikheidsdiens) het ek geleer hoe om staande te bly. Ek woon elke week twee byeenkomste van die CAD by, nie net om sober te bly nie, maar ook om dit wat Jesus aan my geskenk het, met ander te deel. Vandag bly ek steeds net vir een dag sober. In die oggend vra ek Jesus om my deur die dag by te staan en saans kon ek nog elke dag vir Hom dankie se omdat Hy my gehelp het.
Vandag is ek en Pikkie die trotse ouers van drie getroude dogters en agt kleinkinders. Die lewe verruil ek beslis nie vir een waar alkohol my beheer nie!