Getuienis Basie Killian

Ontwikkeling van verslawing

Toe ek na skool begin werk het was ek slegs ‘n geleentheidsdrinker. Ek het redelik goed in rugby en atletiek gevaar. Na die rugbywedstryde en atletiekbyeenkomste waaraan ek deelgeneem het, het die manne gewoonlik ‘n drankie gaan drink. Ek het nooit die behoefte gehad om saam met hulle te drink nie, maar het wel partykeer saam met hulle ‘n drankie geniet omdat ek nie uit wou voel nie. Dit het soms by funksies gebeur dat ek my matigheidsgrens oorskry het. Sonder dat ek eers daarvan bewus was en sonder dat dit my intensie was, het my drankprobleem groter begin word. Ek het glad nie besef watter gevaar dit vir my inhou nie. Ek was jonk, hardwerkend, fluks en gesond.

Op 29 het my hele lewe verander. Na ‘n hartaanval is ek gehospitaliseer. Die internis het aanbeveel dat ek ophou rook en eerder in die toekoms water by my brandewyn te geniet (in plaas van Coca-Cola). Hy het ook whisky en water aanbeveel. Ek het vas geglo dat my kanse op nog ‘n hartaanval baie skraler sou wees indien ek meer whisky drink.

Op daardie stadium was ek waarskynlik reeds verslaaf aan alkohol en eintlik reeds ‘n kandidaat vir behandeling by ‘n kliniek, maar ek het nooit vir behandeling gegaan nie. Ek was wel verskeie kere gehospitaliseer vir sogenaamde spanning, hartkrampe, stres en vele ander simptome. In werklikheid was my probleem ALKOHOL.

Vanaf 1984 het ek op die kerkraad gedien terwyl ek reeds ‘n strawwe drinker was. Ek was verskeie kere selfs hoofdiaken. Wanneer ek in my wyk gekollekteer het of eredienste bygewoon het, het ek altyd gesorg dat ek nugter was. Baie Sondagoggende het ek nog siek gevoel wanneer ek kerk toe gaan. Om die alkoholreuk te verbloem het ek gedurig pepermente gesuig en vanielje-essens gebruik om my mond mee uit te spoel.  Ek het vas geglo dat dit die reuk van alkohol wegneem.

Intussen is ek met Ronél getroud. Ons ‘n baie gelukkige huweliksverhouding gehad waaruit twee kinders gebore is. Ek het baie keer aan Ronél belowe dat ek sou ophou drink, maar ek was nooit spesifiek oor die tydperk waarvoor ek sou ophou nie. Ek was altyd op soek na ‘n geleentheid om te drink. Een van hierdie geleenthede was wanneer ons NAGMAAL by die kerk gebruik het. Dit was ‘n goeie verskoning om na alkohol te ruik. Ronél was ook altyd die verskoning wanneer ek weer begin drink het. Die feit dat ek Nagmaal misbruik het, het my geweldig gepla en het ek gereeld vir die Here om vergifnis daarvoor gevra. Ek weet VANDAG dat die HERE my daarvoor vergewe het.

Op ‘n stadium was ek vir 6 weke vanweë ‘n nekbesering gehospitaliseer. Ek het met vriende gereël dat hulle vir my drank hospitaal toe bring. Gevolglik was ek dikwels onder die invloed van drank wanneer die dominee of die dokter my besoek het.

 

BESLUIT

Op Sondag, 11 September 1994, het ek oudergewoonte gereed gemaak om kerk toe te gaan. Ek was op daardie stadium ‘n ouderling. Ek het soos gewoonlik pepermente gesuig toe Ronél vir my sê dat die pepermente nie meer die alkoholreuk wegneem nie. Die reuk het reeds deur my vel gekom. Ek was geweldig geskok en het dadelik my dokter gebel om vir my inspuitings te gee om my met die onttrekking van alkohol te help. EK HET BESLUIT OM OP TE HOU DRINK. Onder mediese toesig het ek van die gifstowwe van alkohol onttrek en sedertdien het ek nog geen alkohol gedrink nie.

Ons dogter Rozél is in 1998 getroud. Op 1 Oktober 2003 is ons kleinkind Simoné gebore en bietjie meer as ‘n maand later is ons dogter Rozél, op 21 November 2003, met akute leukemie gediagnoseer. Sy is 6 maande daarna, op 24 Mei 2004, oorlede. Vir ouers kan daar nie ‘n groter skok wees nie en ek was geweldig in die versoeking om weer te begin drink. Gelukkig kon ek die versoeking weerstaan. Ons seun Hugo is in 2007 getroud en in 2009 het ons ‘n kleinseun ryker geword.

 

CAD

Vanaf 1994 het die CAD op Worcester vir my geweldig baie beteken en ek woon steeds elke Maandagaand die CAD-byeenkoms by. Ek woon ook alle kampe, konferensies, uitstappies en ander aktiwiteite by. Ek is nie skaam om te sê dat ek aan die CAD behoort nie. Aan die begin was dit vir my moeilik, maar ek het gereeld na getuienisse van ander CAD-lede in die kerk geluister en het later besef dat ek dit ook wou doen. Die CAD is deel van my lewe en dit help my om my lewensdoel te verwesenlik. Die Here lei my om gereeld my getuienis in eredienste te lewer en om ook die CAD aan gemeentes bekend te stel.

Weens my betrokkenheid by die CAD was ek vir lang tye die voorsitter van die Worcester CAD-tak en ook die voorsitter van die CAD Gebiedskomitee vir die Wes- en Suid-Kaap. Ek was ook vir 10 jaar lank die CAD se verteenwoordiger op Ramot se beheerraad. In 2008 is ek verkies tot vise-president van die CAD op nasionale vlak. Ek gesels graag met mense oor drankprobleme en glo dit is my roeping in die lewe. Ek besef egter dat ek altyd nederig moet bly. Ek ervaar ook dat ek party dae goed voel en party dae sleg voel. Jy ry nie altyd op die kruin van die golf nie -al dien jy op baie instansies. Dit is baie belangrik om nederig te bly en te besef dat jou verlossing slegs genade is. Dit verg ook harde werk om nie terug te val nie.

DANKIE

Ek wil graag vir Ronél en Hugo hartlik bedank vir julle ondersteuning die afgelope 17 jaar. Julle help my om sober te bly. Ek weet daar was baie dae wat ek julle deur my optrede hartseer gemaak het. Ek vra om verskoning daarvoor. Ek wil veral vir Ronél bedank vir haar volgehoue betrokkenheid by die CAD en dat sy soveel van haar vrye tyd bestee om my te ondersteun. Baie dankie julle twee!

 

Basie Kilian