Geskiedenis

ONTSTAANGESKIEDENIS VAN CAD                 28/10/2008

1.    INLEIDING

‘n Feesblad “50 jaar van genade – Vrijzee 1939-1989” bied interessante inligting oor die ontstaansgeskiedenis van CAD.  Ander inligting wat bygedra het tot CAD se ontstaan sal verwelkom word sodat ‘n volledige prentjie gevorm kan word.  Stuur asseblief aan Gebiedskantoor by cad@ramot.co.za

2.    GOODWOOD SE ONTSTAAN

–    Die gebied was ‘n sandwoestyn voor ontwikkeling.

–    In die somermaande is droë sandduine gevorm deur die sterk Suidoostewind.

–    In die winter was elke straat tussen duine ‘n vlei.

–    Die eerste naam was Waaisand, daarna Kaapse Vlakte.

–    Die Paarl, Stellenbosch en Franschhoek was voor 1700 reeds dig bewoon.

–    In September 1885 is die eerste grond in die huidige Goodwood-gebied aan ‘n boer toegeken (MJ Louw).

–    In 1724 is gras en olienhoutbome aangeplant om die sand te probeer beheer.

–    In 1845 is ‘n hoë gruispad gebou vir 40 000 pond (die huidige Voortrekkerweg).

–    Wilde rankvye, Port Jackson en mirte is aangeplant.

–    In 1904 koop die dorpsontwikkelaars Joyce en McGregor die plaas en begin strate uitlê;  in 1905 word die eerste erwe verkoop.

–    Die spoorlyn is in 1862 gebou.

–    In 1905 is ‘n perdewedrenbaan gehou en vernoem na die beroemde baan Goodwood in Engeland.  Die naam Goodwood kom van Godwin’s wood en beteken “plek van God se vriend”.

–    Nuwe dorpies rondom Goodwood heet Townsend, Vasco, Richmond (wat later Vrijzee geword het).

3.    CAD SE ONTSTAAN

–    Op 16 November 1917 het die gemeente Parow/Goodwood afgestig van Durbanville.

–    Op 30 Desember 1926 het Goodwood afgestig van Parow.

–    Op 5 April 1939 het Vrijzee afgestig van Goodwood.

–    Vrijzee se naam was eers Raymond, toe Elsiesrivier, daarna Noordweg;  sedert Januarie 1974 is dit Vrijzee.

–    Ds DP (Dirk) Hamman is in Augustus 1939 vanaf Peddie beroep en het tot 1972 in die gemeente gedien (33 jaar).

–    Evangelisasie en alkoholverslawing het vir ds Hamm an baie na aan die hart gelê en dit het sy lewenstaak geword.

–    Hy was ‘n stigterslid van Ramot.

–    Tommie Brown, vader van Piet Brown, se getuienis oor sy verlossing van alkoholverslawing het ander verslaafdes gehelp om ook te oorwin.

–    Die eerste byeenkomste was sedert Pinkster in 1953 in die pastorie se studeerkamer elke Sondagoggend na die erediens.  Vandaar het lede huisbesoek gedoen by alkoholafhanklikes.

–    Ander selfhelpgroepe het ontstaan om afhanklikes te ondersteun en te help, bv Saamstaan in Heidelberg (Kaap) in 1962 en Onesimus in Transvaal in 1956.

–    Op Heidelberg (Kaap) het sterk leiers na vore getree om die Saamstaan Vereniging in 1962 te stig soos Josef en Hanna de Villiers, Berrie en Santie Gildenhuys, Nico Knoetze, Babes van Deventer, Jerrie Eksteen, ds Piet du Toit, Ted Raats en ander.  Baie mense het die Vereniging as ‘n nuwe sekte beskou of het dit as ‘n vergadering van “dronkies” beskou wat steeds skelm drink.  Die groep het egter as kampvegters opgetree vir sober alkoholiste en hulle gesinne.  Almal was welkom by Saamstaan.  Die direkteur van Ramot het elke jaar op Saamstaan se verjaardag opgetree as gasspreker (wyle ds Piet du Toit is dr Johan du Toit se broer).

–    Staanvas word in 1961 in Pretoria gestig en Ramot in Parow in 1964.  Familieaande vorm deel van die behandeling.

–    Die Onesimus Familievereniging by Ramot het elke tweede Vrydagaand vergader wanneer “oop” vergaderings gehou is vir familie van pasiënte.  Ander Vrydagaande is “geslote” vergaderings gehou vir Ramot pasiënte.  Ds DP Hamman was die eerste Voorsitter en Tommie Brown die Onder-voorsitter.

–    Een van die Pinksterdienste in 1965 by die NGK Noordweg (Vrijzee) is bygewoon deur al Ramot se binne-pasiënte en baie van die oud-pasiënte.

–    Volgens ds Dirk Hamman word die beste resultate behaal as persone jare lank  betrokke bly by nasorggroepe na behandeling vir verslawing.
–    Uit die nuusblad van die Onesimus Vereniging en Ramot van 1965 blyk dit dat dieselfde kernelemente teenwoordig was by die rehabilitasieproses as vandag:

”    erken verslawingsprobleem
”    rol van familie is baie belangrik
”    konfrontasie deur geliefdes is nodig
”    gaan vir behandeling
”    vervang drankduiwel met God as Meester
”    doen nasorg om staande te bly
”    maak veranderings aan lewenstyl
”    wees gelukkig met nuwe, sober lewe
”    help ander wat steeds vasgevang is
”    familielede se neuroses verg ook behandeling
”    nasorg is voortgesette behandeling vir alle betrokkenes

–    Die nuusblad “Net vir die Alkoholis” het maandeliks verskyn en het 30c per jaar gekos.

–    ‘n Deurslaggewende voorwaarde vir volkome herstel is te vinde in Lukas 8:39:  “Gaan terug na jou huis en vertel vir die mense alles wat God vir jou gedoen het.  Die man het weggegaan en hy het vir almal in die stad vertel wat Jesus vir hom gedoen het.”

–    Na oorlegpleging tussen Vrijzee groep, Saamstaan en Ramot word die Christelike Alkoholiste Vereniging (CAV) in 1966 g estig.

–    Die Vrijzee groep het die naam “Eendrag” aanvaar en was aanvanklik deel van die Christelike Unie vir die Rehabilitasie van Alkoholiste (CURA) met Hannes Bornman as Voorsitter.

–    Die Vasco groep se naam was “Legio” met Piet Brown as Voorsitter.

–    Die groepe was in die sewentigerjare  baie sterk en het tussen 40 en 70 lede elk gehad, met ‘n eie kantoor, telefoon, 24 uur noodlyn, ens.

–    In die negentiger jare het die groepe saamgesmelt vanweë kwynende lidmaatskap en beperkte fondse.  Die huidige CAD groep “Ons Gee Om” vergader steeds Dinsdagaande om 19h30 met Jannie Engelbrecht as Voorsitter (Vrijzee NG Kerksaal).

–    Die CAV het op 31 Oktober 1976 ontbind en die Christelike Afhanklikheidsdiens (CAD) is terselfdertyd gestig.

Die CAD

Om die hartklop van ‘n organisasie te verstaan, moet ons weet waarvandaan dit kom, waar dit nou is en waarheen dit beweeg.

Die CAD het ‘n mooi verlede, ‘n betekenisvolle hede en ‘n belowende toekoms.

Tydens Pinkster 1953 begin ds DP Hamman met ‘n groepie alkoholverslaafdes in Vrijzee besoekwerk doen.  Kort daarna word die Saamstaan Vereniging te Heidelberg Kaap gestig.  Die Onesimus Vereniging wat in 1956 in die Transvaal deur ds Dan de Beer gestig is, kan  as ‘n voorloper van die Christelike Alkoholiste Vereniging beskou word.

Gedurende die 1957 Sinode van Kaapland word daar na die aanhoor van ‘n verslag van ‘n kommissie van ondersoek goedkeuring gegee aan die oprigting van ‘n Kerklike Sentrum vir die behandeling van alkoholverslaaafdes.

Die Sinode van Noord-Transvaal besluit in 1957 om ‘n nasorghuis vir behandelde verslaafdes daar te stel en in 1961 word die Staanvas-sentrum in Pretoria vir die doel in gebruik geneem en in 1966 begin die sentrum met kliniese behandeling.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad insake Alkoholisme (SANRA) is in 1956 gestig.  In 1962 verskyn die Brümheer verslag oor verslawing en dit lei tot die Wet op Rehabilitasie Sentrums van 1963.

Ramot in Parow word in 1964 geopen.  Ds JL Swanepoel begin met familie-aande by Ramot in belang van die behandelde verslaafdes en hulle gesinne.

Die Christelike Alkoholiste Vereniging

Na oorlegpleging tussen die Ramot-, Vrijzee- en Saamstaan Groepe word besluit om die Christelike Alkoholiste Vereniging (CAV) te stig, waarby al drie groepe ingesluit sal wees.  Die eerste hoofbestuursvergadering vind op 30 April 1966 te Ramot plaas.  Daar is ooreengekom dat die naam van die Saamstaan Vereniging sal voortleef in die maandblad, deur dit “Saamstaan” te noem.

In 1969 neem die Sinode van Kaapland ‘n besluit waarin die stigting van CAV-takke in gemeentes aangemoedig word.  Toe die hoofbestuur in 1969 in Bloemfontein vergader was daar reeds 17 takke.

Wet  41 van 1971 hersien alle vorige wetgewing insake die voorkoming en behandeling van alkohol- en dwelmafhanklikheid.  Vrywillige korttermynbehandeling word aangemoedig en geregistreerde rehabilitasiesentrums ontvang subsidie en kom onder die toesig van die destydse Departement van Volkswelsyn en Pensioene.  Vanaf 1974 ontvang die CAV ook subsidie van die staat via die AKDB.

Intussen het ‘n ander Vereniging in die Kaap ontstaan wat ook kerklike steun en erkenning geniet het.  Hulle was eers bekend as die AAD, nl Anti- Alkohol Organisasie, maar het later die naam Christelike Unie vir die Rehabilitasie van Alkoholiste nl, “CURA” aanvaar.  Die Sinode van Kaapland kon nie twee verenigings met dieselfde doelstellings onder sy vleuels neem nie en na samesprekings willig die Eendrag Tak van CURA  in om te ontbind en tree toe as die Eendrag Tak van die CAV in 1974.

Volgens die grondwet was die CAV tot 1975 nog steeds ‘n buitekerklike vereniging wat nie deur alle gemeentes aanvaar is nie. Omdat die CAV uit die alkoholistesorg van die NG Kerk gebore is en omdat sy lede oorwegend aan die NG Kerk behoort het, was daar ‘n sterk behoefte om die diens wat die CAV gelewer het formeel in die barmhartigheidsdiens van die NG Kerk op te neem.

Die AKDB het die pad oopgemaak deur bepalings vir ‘n Christelike Alkoholiste Diens van die NG Kerk op te stel.  Die CAV het op 31 Oktober 1976 ontbind en CAD-groepe is in verskillende gemeentes georganiseer (Suidpunt groepe het `n groot aandeel).

In die nuwe bedeling het die Hoofbestuur plek gemaak vir Gebiedskomitees van die verskillende sinodale streke.  Dit het dadelik inisiatief gestimuleer, groei bevorder en kontrole vergemaklik.

Die doel van die CAD

Die doel van die Christelike Alkoholiste Diens is om die Barmhartigheidsdiens van die NG Kerk aan Alkohol- en dwelmafhanklikes te bevorder.  Hierdie doel kan deur die volgende funksies verwesenlik word:

1.    Die CAD lewer voorkomingsdienste ten opsigte van verslawing.  Persone wat middels gebruik is soms onbewus van die groot gevare wat skuil in  oormatige en onoordeelkundige middelgebruik.  Enige persoon wat soms sy matigheidsgrens oorskry mag op die pad wees van verslawing.  Om smart en verlies in die toekoms te voorkom, versprei die CAD inligting  en literatuur en lede deel hulle eie ondervindings van verslawing en oorwinning.

2.    Die CAD maak kontak met verslaafdes om hulle tot soberheid te motiveer.  So kan sommige verslaafdes met behulp van die CAD hulle verslawingsprobleem oorwin.

3.    Die CAD motiveer verslaafdes om behandeling in ‘n sentrum te ondergaan indien hulle nie in staat is om self hulle probleem binne redelike tyd met behulp van die CAD te oorwin nie.

4.    ‘n Verdere funksie van die CAD is behandelingsondersteuning. Terwyl die persoon behandeling ontvang, ondersteun die CAD die gesin, verleen hulp waar nodig en moedig die pasiënt aan om samewerking te verleen en sy behandeling te voltooi.  Hulle toon ‘n lewendige belangstelling in hom deur gereelde besoeke en kontak gedurende sy behandelingsfase in die sentrum.

5.    Die CAD lewer ‘n nasorgdiens aan verslaafdes wat die verslawing oorwin het, asook aan hulle gesinne en familielede. Lede leer by mekaar hoe om die oorwinning oor verslawing vol te hou en om `n terugval te voorkom. Hulle het dieselfde probleme beleef, hulle kan opgekropte pyn deel en die vaardighede bemeester hoe om in verskillende situasies op te tree.  Die CAD is soos `n groot gesin wat mekaar liefdevol ondersteun.

Min mense besef hoe onseker die verslaafde in werklikheid is wanneer hy die sentrum verlaat., veral die een wat gebaat het by sy behandeling.  Aan die een kant is hy vol entoesiasme en ondernemingsgees om terug te keer na sy gesin, sy werk en sy omgewing.  Hy wil graag ook gaan toepas dit wat hy in die sentrum geleer het,  maar aan die ander kant het hy baie dinge verbrou, dinge wat hy sal moet regstel.  Hy gaan terug na ‘n samelewing wat nie sy probleem verstaan nie, ‘n samelewing wat dalk nog nie klaar is met straf, verwyte en agterdog nie.  As hy maar net kon teruggaan na ‘n samelewing en vriendekring wat hom verstaan.

Hierdie nuwe hawe om na terug te gaan is presies wat die CAD graag wil doen en aanbied.  Die CAD werkers ken die persoon se vrese en twyfel want die meeste CAD werkers het self deur die meule gegaan.  Hulle ontmoet hom op ‘n vlak waar hy is.  Hulle is bereid om saam met hom te loop deur al sy krisisse heen totdat hy sy selfvertroue herwin het, en hy by die normale lewe kan aanpas en aanvaar word.

Terwyl hy in hierdie leerskool van die CAD is, begin hy weer inploeg wat hy in die Sentrum ontvang het.  Hy help nuwe werkers en neem deel aan die gemeenskaplike rehabilitasieprogram.  Hy leer ander en hy word self geleer.  Dit is die pad na emosionele volwassenheid.  As ‘n verslaafde aktief by die CAD betrokke is en uit sy eie liefdesdiens begin verrig, sal hy voortdurend sy sober lewe stel in diens van die CAD , sy Heer en sy kerk.

Die bydrae van die nie-verslaafdes in die nasorgdiens moet en kan nie onderskat word nie.  Hulle leer by ons, maar die verslaafde leer by hulle om sonder middels te sosialiseer, sonder middels lewensprobleme aan te pak, te verwerk en om sonder middels gelukkig te wees.  Daarom dat ons nie-verslaafdes in die CAD as lede het.  Gewoonlik is dit mense wat nog bereid is om met hulle medemens gemoeid te raak.  Ons wil leer om met sober mense saam te leef.  Ons het hulle nodig want hulle kan vir ons kanale oopmaak na persone wat verslawingsprobleme het.

6.    Die CAD wil al sy werkers aanmoedig tot volhardende geloof in Jesus Christus wat die duurste prys ook vir die redding van die verslaafde betaal het.

Opsommend kan ons sê dat die doel van die CAD verwesenlik word deur onderlinge ondersteuning, gesonde groepsgebondenheid, terapeutiese en geestelike groei aan middel-afhanklikes te bied.

Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.  Dit is deel van ons wese:  God het ons gemaak dat ons ons medemens nodig het, om liefde te kan gee en te ontvang.

Dit is egter hier waar die CAD baie kan en moet doen.  CAD werkers wat die mens in nood ken kan hier sy hulp en diens gee.

Een van ons grootste probleme in die ou CAV en tans in die CAD is gesonde leierskap.

Sommige verslaafdes verlaat die sentrum  met min selfvertroue.  Selfvertroue is een van die belangrikste eienskappe van ‘n leier.  Die   sober  persoon wat dit opreg bedoel om ‘n sober lewe te voer, het die ondersteuning en liefde nodig van sy lewensmaat, sy kinders, sy vriende, sy werkgewer en sy medemens om sy selfvertroue te herwin.

Die Gebiedskomitee van Wes-Kaap het ‘n daadwerklike poging aangewend om leierskap te bevorder.  Leierskursusse is aangebied waar lede met behulp van video-apparaat hulself kan bekwaam om op te tree as leiers in die aktiewe groepe.

Vir die persoon wat tot selferkenning gekom het van sy verslawingsprobleem, wat dit opreg bedoel het met sy rehabilitasie en vir wie dit ‘n begeerte is om sober voort te leef, is die CAD `n anker in sy lewe.  By die CAD kan hy sy heil uitlewe en herwin wat hy verloor het.

Dankie aan almal wat die CAD goedgesind is.  Dankie aan vakkundiges in die gemeenskap,  leraars,  werkers en vriende. Mag CAD van krag tot krag gaan.