Sober Riglyne

Alcoholhelp Om die rol van die CAD in praktiese terme uit te druk en om dit in aksies oor te skakel het die organisasie tien nugterheidsriglyne daar gestel wat die basis vorm van die aksies en die strewe van die organisasie in woorde omsit.

Die tien nugterheidsriglyne van die CAD berus op die uitgangspunt dat substansafhanklikheid identifiseerbaar en behandelbaar is. Verder, dat die beginpunt van hiedie proses die aanvaarding en erkenning van afhanklikheid deur die substansafhanklike is, en sy of haar verbintenis tot ‘n nugter lewensstyl.

Die CAD aanvaar ook dat die substansafhanklike nie alleen oor die langtermyn nugter kan bly nie, en dat ondersteuning deur medeafhanklikes noodsaaklik is.

Dit moet beklemtoon word dat sonder hierdie aanvarding, erkenning en verbintenis daar geen wesenlike vordering kan wees tot die bereiking van ‘n nugter lewensstyl deur die substansafhanklike nie. Terselfdertyd is die aanvaarding, erkenning en verbintenis tot hulpverlening deur die medeafhanklike essensieel vir die bereiking van ‘n nugter lewensstyl deur die substansafhanklike.


Tien riglyne vir die substansafhanklike

Die tien nugterheidsriglyne en dus die kern van die rol wat die substansafhanklike in die CAD speel, word in die volgende drie kernbesluite vervat.

A.     Ek erken die bestaan van my probleem en die aard daarvan.

Om te erken, beteken dat ek bely dat dit waar is dat:

1.    Ek ‘n substansafhanklike is, of dat ek ‘n substansafhanklikheidsprobleem het, en ek aan ‘n chroniese, terugvallende en dodelike siekte ly waarvoor daar geen genesing is nie behalwe ‘n nugter lewensstyl;

2.    My substansafhanklikheid gestrem kan word, maar slegs deur algehele en lewenslange weerhouding, met ander woorde slegs indien ek nugter bly vir die res van my lewe.

B.     Ek aanvaar aanspreekliheid vir my probleem en die behoefte aan hulp in die oplossing  daarvan.

Om aanspreeklikheid te aanvaar, beteken dat ek glo dat:

3.    Ek alleen die besluite gemaak het wat tot my substansafhanklikeheid gelei het;

4.    Ek alleen die besluite kan maak wat nodig is om my substansafhanklikheid te strem;

5.    Ek myself moet vergewe en die vergifnis van die Here en ander moet soek vir die onreg wat ek teenoor myself, Hom en ander gepleeg het terwyl ek onder die invloed was van afhanklikheidssubstanse;

6.    Ek geduldig moet wees terwyl ek en ander die veranderings in lewensstyl maak wat essensieel is vir my lewenslange nugterheid;

7.    Ek die ondersteuning, krag en leiding van die Here en van ander wat my probleem verstaan nodig het om die lewensstylveranderings vol te hou wat essensieel is vir my lewenslange nugterheid.

C.     Ek verbind myself tot nugterheid en nuttigheid.

Deur myself te verbind tot nugterheid en nuttigheid beteken ek dat ek plegtig belowe om alles in my vermoë te doen om:

8.    Met die verlede agter my, ‘n nugter lewensstyl in die Christelike etos uit te leef;

9.    Te groei en te ontwikkel sodat ek ander kan ondersteun wat my hulp nodig het om nugter te bly;

10.    Ander te vertel van my nugterheid en hulle aan te moedig om nugter te word.