Hierdie is die ware verhaal van my lewe as afhanklike
Author Monument (Lyttelton)
Suid-Afrika is ‘n groot land met baie probleme. Een van die probleme is dwelmmisbruik en dit is erger wanneer handelaars gerig is op sagte teikens, veral skole. Ek voel dat daar nie genoeg gedoen word in ons skole, of as ouers, om ons kinders op te voed oor die gevare van dwelms en alkohol nie. Ons leef in ‘n konserwatiewe samelewing waar mense nie openlik wil praat oor dwelms nie. Om hierdie probleem te ignoreer is verkeerd en ouers moet self beheer neem deur opgevoed te raak oor dwelms, sodat hulle op hul beurt hul kinders kan opvoed oor gebruik van dwelms. Net soos wat ons ons kinders oor seks en die gevolge van MIV leer, moet ons hulle ook vertel van die gevare van dwelmmisbruik.
Daar word nog steeds geglo dat as jy jou kind op ‘n vroeë ouderdom leer van die gevare van dwelmmisbruik, sal dit ‘n verskil maak. Ouers vermaan kinders soms om iets nie te doen, omdat dit sleg is sonder om te verduidelik waarom. Dit is beter om openlik met hulle te praat oor die gevare van dwelmmisbruik en die voordele van ‘n dwelmvrye lewe. Ons kan nie langer sê “dit kan nie met my kind gebeur nie” of “dit is die skole of SAP se plig” nie. Dit is in ons beste belang om as ouers iets te doen teen dwelmmisbruik deur openlik te wees daaroor
Niemand is ‘n kenner op die gebied van ouerskap nie en daarom deel ek graag my lewe as ‘n dwelmverslaafde met julle met die hoop dat ouers en kinders sal baat vind by die lees van my belydenis. Ek is nie trots op wat ek met my lewe gedoen het of oor al die mense wat ek in die proses seergemaak het nie, maar dit sal my gelukkig maak as my vertelling van dit wat ek ervaar het en die pad wat ek gestap het ‘n kind daarvan sou weerhou om ooit te begin met die gebruik van dwelms of alkohol.
As die oudste van vier seuns met goeie ouers wat hard gewerk het om ons alles te gee wat ons nodig het, en ‘n baie hegte familie met baie liefde vir mekaar, het ons in 1974 verhuis vanaf Kaapstad na Johannesburg, wat beteken het ‘n nuwe skool en nuwe vriende. Op die ouderdom van dertien en in ‘n nuwe skool het sport ‘n groot rol gespeel om aanvaar te word in die groep. Ek wou nog altyd “een van die seuns” wees en so het ek deel geword van ‘n baie kragtige bende, wat hul reputasie verdien het as gevolg van die slegte dinge wat hulle gedoen het. Op ‘n dag het ek saam met die bende alkohol gebruik by ‘n partytjie waar ‘n ouer man, wie ons geken het, my ‘n “joint” aangebied het. As ‘n tiener het ek niks geweet van dagga nie, behalwe dat dit onwettig was en het daarom het ek nie nee gesê nie. As gevolg van die vreemde gevoel wat dit my gegee het, het ek ook nie gehuiwer om dit te weer te gebruik nie.
Min het ek geweet dat dit die begin was van ‘n lang en stadige pad na dwelmverslawing deur rook en alkohol, voor, tydens en na skool . My skoolwerk en sport het begin agteruitgaan, maar as ‘n tiener het ek altyd ‘n verskoning vir my gedrag gehad. Vir twee jaar tot en met die ouderdom van vyftien, was drink, die rook van dagga, uithang saam met bendelede, mense seer te maak en hul geld te steel vir dagga, baklei my lewe. Alkohol en meisies was my lewenstyl. Op die ouderdom van sestien het ek as gevolg van ‘n rugbybesering ‘n epilepsielyer geword. Ek het begin eksperimenteer met ander dwelms soos LSD wat ‘n ander “high” tot gevolg gehad het. As gevolg van my epilepsie het skoolgaan vir my so moeilik geraak dat ek skool verlaat het en ek begin jammer voel het vir myself. Dit was ‘n groot fout omdat dit my net meer dwelms laat gebruik het om beter te voel oor myself. Ten spyte daarvan dat ek geweet het dit is onwettig en dat dokters my gewaarsku het om agv my epilepsie nie alkohol of dwelms te gebruik nie, het ek steeds volgehou.
My familie het weer van Johannesburg na Pretoria verhuis waar ek begin het om Kollege by te woon om matriek te voltooi. Hier het ek weer nuwe vriende gemaak en dit was pret om die hele dag in ‘n kroeg rond te hang in plaas van klasse by te woon. Dit was in hierdie tydperk dat die rook van Mandrax die “inding” was. Ek is op hierdie stadium opgeroep om weermag opleiding te doen. Die rook Mandrax was ‘n slegte ervaring en het veroorsaak dat my gesondheid en my lewe voor my oë begin agteruitgaan het, maar ek het nie omgegee nie. My Lewe het afgestuur op dié van ‘n volle dwelmverslaafde en ek het gelewe net om “stoned” te raak. Nadat ek uit die weermag gekom het , het kon ek net kontrakwerk gedoen, maar die salaris wat ek verdien het was nie genoeg om my leefstyl van verslawing aan die gang te hou nie. Dit het beteken dat ek begin het met onwettige aktiwiteite soos die verkoop van gesteelde goedere, steel, en basies enigiets om geld te kry, en dit alles vir ‘n ” high “. Dit het gelyk asof die medikasie vir epilepsie my immuunstelsel meer weerstandig teen dwelms gemaak het in vergelyking met ‘n gewone verslaafde. Tussen die ouderdom van 19 en 26 was ek altyd in die moeilikheid a.g.v. gevegte binne en buite klubs en ek is vier keer gevang vir die besit van dagga, is ook verdink van ander aktiwiteite, maar daar was geen bewys nie. In hierdie tydperk het my verslawing aan LSD en Mandrax vererger en het dit my tussen R300 en R600 per dag gekos. Vir my was dit ‘n speletjie en ek het nie besef of omgegee oor die pyn wat dit my familie besorg het nie.
Die lewe was net een groot partytjie van die dwelm “cocktails” en ek het soos ‘n “roller-coaster” op en af voort gespoed ten spyte daarvan dat ek gesien het van ander se slegte ervarings op LSD. ‘n Mens sien skrikwekkende dinge wat nie eers daar is nie, en jy skrik wanneer mense wat jy ken ‘n oordosis voor jou oë neem. Dit is nie ‘n lekker plek om te wees wanneer iemand wie jy ken voor jou oë sterf of byna sterf as gevolg van te veel dwelms nie. Ons het op hierdie stadium na vriende in Johannesburg gegaan waar ons net gesit en normale mandrax gerook het. Ons het ‘n plan vir ‘n diefstal gehad en geweet dit is onfeilbaar.
Die tyd was reg, 01:30 die oggend. My vriend het besluit 4 is te veel om saam te gaan en 2 ouens het gegaan en 2 gebly. Teen 06:30 het die telefoon gelui en ons is vertel dat beide mans met verskeie koeëlwonde in n rooftog doodgeskiet is, omdat hul wou ontsnap. Ons het nooit die geleentheid gehad om ons vriend te bedank wie gesê het dat ons vir hom moes wag nie. My lewe het voor my verby geflits met die die wete dat dit een van ons twee wat agtergebly het, kon gewees. Ahoewel ek nie van naalde of pille gehou het nie, het ek steeds ‘n paar pille nou en dan gesluk toe twee vriende voor my oë gesterf het as gevolg van die spuit en oordosering van Walconol. Hulle het so vinnig gesterf dat daar niks was wat ons kon doen nie en het my ‘n groter vrees gegee vir naalde.
Om naby aan so ‘n oordosering te kom is nie ‘n lekker ervaring nie. Op ‘n dag het ‘n man wat ons geken het na my gekom en my ‘n handvol pille gegee. Ek het dit onmiddellik begin sluk, terwyl hy my nog probeer vertel het dat twee genoeg was, maar dit was te laat. Hy het vir my gesê dit was die meeste Vesparex wat hy iemand nog ooit sien neem het. Dit het gebeur op ‘n Vrydagnag en vir vier dae daarna moes ek gevoer word, na die badkamer geneem word en kon nie loop of praat nie.
‘n Week later het ek ten volle herstel en besluit om nie weer pille te neem nie, alles was in ‘n waas en ‘n paar vreemde dinge het gebeur om my te weerhou daarvan om weer pille te neem.
Rondom my het te veel ellende en dood plaasgevind as gevolg van dwelms en ek het nooit vergeet van ‘n naby skool vriend van my wat buite ‘n nag-klub in ‘n bakleiery oor ‘n meisie was net sestien, gesterf het na ‘n dodelike messteek nie.
Die gebruik van dwelms is geen lewe nie en op die ouderdom van vyf en twintig het ek reeds twee keer op trou gestaan, maar dit het nie gewerk nie as gevolg van my dwelmmisbruik. My lewe was ‘n gemors, maar soos enige verslaafde het ek geglo dat ek die probleem kon oplos deur nie te erken dat daar ‘n probleem is nie. Dit was nog ‘n groot fout om dit ‘n geheim te hou en ek het toe besluit om op te hou om mandrax en dagga te rook.
Toe het ek begin om kokaïen te snuif, hoofsaaklik omdat dit ‘n kleiner verpakking was in vergelyking met die van mandrax en dagga. My lewe het baie onbeheerbaar geraak omdat kokaïen baie duur en die gewoonte hoogs verslawend was. Die gevoel is egter so goed dat jy nie bekommerd is oor jou optrede nie en gee nie om oor die gevolge van wat jy doen nie, die lewe is ‘n nagmerrie. Geld begin geen betekenis in die lewe te te hê nie en jy sien nie die sin van die lewe nie. Die uiteinde was ‘n lewe in gevaarlike plekke met dwelmhandelaars, geld en ander verslaafdes omring. Nou het ek goeie geld gemaak en was in staat was om kokaïen op skuld van die handelaars te kry, hulle het my vertrou wat beteken het dat dwelmgebruik vir my maklik was.
Op die ouderdom van dertig is ek getroud, maar 3 jaar later geskei, ten spyte daarvan dat my eksvrou my probeer help het. Om na ander mense te luister was nie my sterk punt nie. Die ergste het nog voorgelê toe ek op die ouderdom van agt en twintig met “Crack” wat net so verslawend soos heroïen, begin het. ” Crack” was die ergste dwelmmiddel wat ek ervaar het omdat dit regtig alles wat jy het, liefde, vriende, familie, geld en die belangrikste dinge in jou lewe wegneem. Vanaf die ouderdom van agt en twintig tot op die ouderdom van ses en dertig was “Crack” my lewe. Al my geld is spandeer op die volgende “fix” en my ouers moes my dwelmskuld , wat geensins goedkoop was nie, betaal. Om ‘n voorbeeld te noem van die dinge wat ‘n persoon in staat is om te doen terwyl hy op “Crack” is: die maatskappy waarvoor ek gewerk het, het toegemaak en aangesien ek vir ‘n lang tydperk vir hulle gewerk het, het ek ‘n tjek van R75 000,00 van hulle ontvang. Die geld het ek binne twee en ‘n half weke , waarin ek nooit geslaap het nie , aan “Crack” spandeer , dit was asof die “Crack fix” nooit sou eindig nie.
“Crack” kry jou beet op ‘n plek waar jy nie wil beetgekry word nie en wil jou nie laat gaan nie, jy word iemand wat jy nie wil wees nie. Wanneer jy sien dat ‘n miljoenêr of twee alles verloor as gevolg van “Crack” is dit nie lekker nie, want jy besef hoeveel geld jy kon gehad het, maar jy het “Crack” gekies wat jou tot R3 000,00 per dag kan kos, soos met die my geval was. ‘n “Crack”-verslaafde word uit die samelewing onttrek en gee nie om vir ander mense en die lewe nie. ‘n Mens moet onthou dat dwelms ‘n gewoonte raak en moet op die regte manier behandel word. Daar is ‘n beter kans op behandeling indien iemand so vroeg as moontlik behandeling kry en veral op ‘n jong ouderdom voordat verslawing erger word. Die beste oplossing is indien die individu besef en erken dat daar ‘n probleem is en hy regtig dwelmgebruik wil opgee. Dit is nie so moeilik nie, want dit is alles in die kop. “Crack” was die mees verwoestende dwelm wat ek ooit ervaar het. Dit word jou god en jy aanbid dit, maar eintlik is dit ‘n lewende hel en jy gee nie om vir enigiets rondom jou, behalwe wanneer die volgende “fix” gaan kom nie.
Nadat ek vir drie maande in ‘n rehabilitasiesentrum was en baie geleer het, het baie vir my begin sin maak. Dit is moeilik om op die ouderdom van 36, na 23 jaar op ‘n soort van ‘n geneesmiddel, ‘n nuwe lewe te begin. Dinge wat altyd in jou lewe was is nou ‘n nuwe en vreemde ervaring , maar dit is ‘n uitdaging en ‘n uitdaging is vir my om te veg en veg is in my bloed. Dinge het baie beter begin lyk noudat harde dwelms iets van die verlede was, maar ek moet altyd onthou dat ek ‘n dwelmverslaafde sal wees vir die res van my lewe. Dit sal my baie jare neem om terug te kry wat verlore is, veral om mense se vertroue in my terug te wen en my liefde te bewys aan my familie en die paar vriende wat my gehelp het op my pad van herstel. Ek moet ook aan myself bewys dat dit moontlik is om ‘n normale lewe te lei met sy “ups and downs” en moet dankbaarheid wys aan die mense wat altyd liefde aan my betoon het. Mense is nie bewus van die gevare van harde dwelms nie en dit is rede waarom ek hierdie ware verhaal geskryf het, nie om jou te vertel van die slegte dinge wat ek gedoen het nie, maar om jou te laat besef dat delmmisbruik kan met enigeeen gebeur.
Ons as mense moet betrokke raak en eis dat meer anti-dwelm veldtogte, byvoorbeeld anti-dwelm baniere, anti-dwelm radio en televisie advertensies en meer geselsprog ramme oor hierdie gewoonte aangebied word. Ek kan nie sê dit is die antwoord nie, maar net ‘n voorstel. Middelmisbruik speel ‘n groot rol in misdaad so dit moet ons aanspoor om mense meer bedag en openlik te maak oor die gevare van alkohol-en dwelmmisbruik. Ons moet saamstaan om die probleem wat ons kinders en die land se toekoms bedreig, uit te roei .
My boodskap aan jou is dat jy nie enige iets moet misbruik nie, dit kan net die begin wees van ‘n lang en eensame pad tot verslawing en die ergste soort lewe wat jy jouself kan indink. Jy kan jouself nie voorstel hoe moeilik dit vir my is om om hierdie verhaal van verslawing te skryf nie, verslawing is anders as enigiets wat jy kan beleef, amper soos ‘n riller, net erger.
Sê nee vir dwelms – dit is nie ‘n lewe nie!