Ben se Getuienis
Mei 13, 2009
My naam is Ben.
Die eerste keer wat ek alkohol geproe het, was in Standerd 5 toe ek skelm `n glasie van my Pa se Hanepoot gedrink het. Die soetigheid was baie lekker en ek kon die druiwe daarin proe. Ek het dit gedoen omdat my suster my uitgedaag het. Dit was in 1957 in Bellville.
Op skool het ek baie goed gevaar, akademies, met sport en sosiaal. Rugby, krieket en tennis was my gunsteling sportsoorte en ek was gewoonlik in die eerste span. Ek was groot en fris en was `n goeie leier. In die Voortrekkers en in Landsdiens het ek op skool tot op top-vlak gevorder. My ouers was goeie tennisspelers en het altyd by die dorp se tennisklub of by my Pa se skool gespeel. My Pa was onder-hoof by `n hoërskool en ons het gereeld saam met die skool op sporttoere gegaan, selfs toe ek nog klein was. Die lewe was sonder probleme. Die politiek en apartheid het my glad nie gepla nie, ons was getroue kerkgangers en het as gesin aan alles deelgeneem.
In my St. 9 jaar is my Ma in `n motorongeluk oorlede. Ek was verpletter maar het dit aanvaar as die Here se wil. My Pa het gou weer getrou en ek was maar baie eensaam. My meisie se Ma was baie vertroostend en ondersteunend en ek het meer tyd by hulle huis begin deurbring. Die tannie se rookgewoonte het my gefassineer en ek het self skelm begin rook. Cavalla 10 of Texan Plain. Die Texan was by garage-partytjies as jy die sigaret soos `n cowboy kan uitskut en vir jou vriende aanbied. Grootmeneer. In ons huis is nooit gerook nie en net Oupa mag sy pyp in ons huis gerook het wanneer hy en Ouma kom kuier het. Ons ander huisvriende het nie gerook nie. Ons het saam radio geluister, brug gespeel en rooibostee gedrink. Ma het niks gedrink nie en Pa het soms bier, Hanepoot of Lieberstein saam met sy vriende of swaers gedrink.
Aan die einde van St. 9 het ek en my meisie Oujaarsaand saam met haar familie gebraai langs die swembad by hulle huis. Ons het toe al lekker gevry, maar ek moes my hande tuishou. Ek het die aand 7 glasies Late Harvest gedrink. Die laaste wat ek onthou was dat ek na ete in die Krismisrose opgegooi het. Op Nuwejaarsdag het hulle my vertel dat ek baie vryerig en vatterig geraak het en dat my meisie my in die swembad gestamp het om af te koel. Sy moes ook induik om my te red, anders het ek verdrink. Ek onthou niks daarvan nie, ook nie hoe ek by die huis gekom het nie. Ek het gewonder hoekom my klere klam was toe ek op Nuwejaarsoggend wakker word. Die kopseer was glad nie lekker nie. My laatnagswem was natuurlik `n groot grap by my meisie se huis.
Op universiteit en gedurende my werksloopbaan het ek baie min gedrink en glad nie gerook nie. Ek het steeds baie goed gevaar in sport en is later gelukkig getroud met `n beeldskone vrou in `n professionele beroep as fisioterapeut.
In 1999 het ek op 55 afgetree na `n suksesvolle beroep as prokureur. Ek was jonk en fiks en wou nog die lewe geniet. My vrou wou nog nie haar praktyk opgee nie en ons het dus besluit om in ons huis te bly. Ons 2 seuns was getroud en onafhanklik en het in hulle eie huise gewoon en het hulle eie beroepe en gesinne gehad. Ek het genoeg eiendom, aandele en beleggings gehad om gerieflik af te tree. Die seuns en hulle gesinne het elke Sondag by ons kom eet en ons het gereeld saam vakansie gehou by ons vakansiehuis op Kleinmond. Ek was ouderling en voor-sitter van die Finanskommissie. `n Perfekte lewe. Wat wil jy meer hê?
Na aftrede het ek by die gholfklub aangesluit want ek was bedags verveeld by die huis. Sommer gou het ek baie nuwe vriende gehad en het ons elke middag saam geët in die klubhuis. En die drankies het nie agtergebly nie. Van die beste Bolandse landgoedwyne en duur whiskey. Dikwels het ons die gholf gelos en sommer vroeg al op `n wyntoer gegaan. Stellenbosch, Constantia, Paarl, Worcester, Robertson, Hermanus, Tulbach. Ons het ook jagtogte na De Aar en visvangnaweke na Lambertsbaai gereël. En die voggies het gevloei.
Ek het begin om soggens te drink sodra my vrou weg is werk toe sodat ek net kon beter voel en ophou bewe. Ek het ook my vriende en familie begin afskeep want hulle het agter my rug begin praat. `n Ete by familie is so vervelig want hulle drink veels te min. En wie wil buitendien eet as daar drank is? My vrou wil ook nie hê ek mag bestuur na `n familie-ete nie en dit is vir my, Ben, `n groot skande. Daarom bly ek liewer by die huis en my vrou kan rustig alleen by die familie gaan kuier.
Na drie jaar het die keerpunt gekom deurdat 4 dinge gebeur het:
1. Tydens my jaarlikse mediese ondersoek het my dokter gesê dat my lewer besig is om te verhard en dat ek 3 tot 6 maande het om te leef.
2. My oudste seun het my verbied om te gaan rugby kyk as hy speel, want ek is vir hom `n verleentheid langs die veld.
3. My jongste seun het alle kontak met my verbreek, want hy wil nie hê sy kinders moet `n dronk oupa onthou nie.
4. My vrou het na haar eie kamer getrek want volgens haar ruik ek sterk na alkohol saans in die bed.
Na deeglike besinning het ek besluit om `n nuwe blaadjie om te slaan. Ek het vir 4 dae en nagte met die Here geworstel en ek besef dat ek nie sonder hulp kan ophou drink nie. Ramot in Parow se susters het my gehelp met die nare onttrekking en die sielkundige het my gehelp om nuut te begin dink. By Ramot het ek ook gehoor van die CAD (Christelike Afhanklikheidsdiens) wat nasorgdienste lewer. Ek het ook `n paar CAD-lede ontmoet, sommige van hulle alreeds sober en gesond vir 37 jaar. Hulle getuienis het my aangespoor om ook sober te bly en my lewe te verander.
Na voltooiing van my program by Ramot het ek ons huishulp en ons tuinier se dienste beëindig. Ek is sedertdien die voltydse kok, huis-hulp, tuinier, onderhoudsbeampte en ek doen ons was- en strykgoed.
Ek bly weg van die gholfklub en doen vrywillige werk by ons ouete-huis as drywer, tuinier en onderhoudsbeampte.
My lewe het totaal verander. Die CAD help my om die nuwe lewe ten volle te geniet. Ek woon CAD-vergaderings by, lewer my getuienis oral waar ek kom, help mense wat nog vasgevang is in verslawing, besoek ander groepe en klubs, gaan na CAD-konferensies, help om nuwe CAD-groepe te stig en te ontwikkel, is betrokke by die daarstel van `n deurgangshuis om swakker pasiënte te help om te stabiliseer in `n sober lewe, ek is weer op die kerkraad en my gesondheid is baie goed.
Ek is deur genade nou 7 jaar sober. My vrou het afgetree en ons is elke dag op `n tweede wittebrood. My kleinkinders is baie lief vir hulle Oupa en Ouma en my seuns het ook opgehou drink. Dit het alles gebeur net omdat ek opgehou drink het. Hoe dom was ek nie
voorheen nie. Hoe kon ek alkohol kies bo geluk? Ek het na 65 jaar my werklike doel in die lewe bereik.
Daar is baie wat afgetredenes kan doen om steeds nuttige burgers te wees. Sluit aan by die CAD, hou op drink en ontdek ook jou doel in die lewe.
Ek sien uit daarna om jou te ontmoet.
Groete.
Ben