Getuienis Pietie

GETUIENIS:  PIETIE

Toe ek op drugs was, het ek alles in die huis verkoop om drugs te koop: Gordyne, klere, komberse, messe, lepels, kos, deure, vensters, alles. As ek aankom en die mense sien dis ek, dan steek hulle alles weg wat gesteel kan word. Selfs my eie familie wou my nie sien nie. Hulle het die huise gesluit as ek aankom.

Ek was van 12 jaar af `n gangster, die probleem was dat my broers in `n ander gang was en dat ons in dieselfde huis in Heideveld gewoon het. Die gang leader het verwag ek moet my eie broer moet doodmaak om lid te word, maar ek kon dit nie doen nie. Ek het van kleinsaf alle soorte drugs gebruik: Dagga, buttons, alkohol, LSD, alles. Ek het gelyk soos `n skaapkop as ek in die spieël kyk en ek was baie maer.

Pietie Smoke

As jy baie wyn drink en jy word dronk, dan verander jy na iemand vir wie jy skaam is. Jy val op die vloer, jy skel en baklei, jy is onbeskof, jy is siek, al jou geld is op, jy steel en is skelm om geld te kry, alles net vir drugs en wyn. As jy dronk is worry jy nie wat die mense van jou sê nie. Die kinders raak skaam vir jou en probeer jou wegsteek. Jou vrou raak moedeloos en afgetakel, sy dink aan skei.

Jy verloor die respek van jou vrou, familie, bure, kinders en klein-kinders, jy verloor jou werk en gesondheid, jou besittings en geld, wyn vat alles weg en word jou baas.

Ek en my vrou en pasgebore babatjie het in die buite-toilet geslaap as dit reën. Dit was baie koud en nat. Dit was so klein dat ons nie langs mekaar kon lê nie. Een moes sit of staan en die ander een kon lê. Al ons besittings was in `n klein kassie buite. Ons was honger en baie arm.

My vrou het gewerk vir inkomste.

Ek was gelukkig dat my mooi vrou 20 jaar lank vir my gebid het en altyd geglo het ek sal regkom as ek die Here ontmoet.

Een Maandagoggend hoor ek `n stem agter my wat sê: “Pietie, jy moet jou vandag bekeer.”

Ek kon nie verstaan wat aangaan nie en het die stem “ignore”, ek het gedink ek word mal omdat die stem praat en ek sien niemand nie. Later het ek weer die stem duidelik gehoor:

“Pietie, jy moet jou vandag bekeer.”

Ek het opgestaan en na die pastoor se huis geloop en hom gevra om vir my te bid. Op daardie oomblik is ek verlos van my sonde, dwelms, alkohol, sigarette, bendes, diefstal, alles.  Dit was 12 jaar gelede en ek is steeds verlos. Ons het nou `n huis, ons het al sewe karre gehad, ek word binnekort `n pastoor.

I have changed from a disaster to a pastor.  Ek het verander van `n alkoholis na `n evangelis.

I was nothing, but God made something out of nothing.

Pietie 2Ek het nooit gewerk nie, maar het altyd geld gehad. As die perdekar vol afval-yster verby kom, dan vat ek `n ou stukkende tweeplaat stofie en gaan verf hom mooi nuut en maak hom reg. Dan stap ek hier oor die brug na Guguletu en verkoop hom vir R50 aan die mamma. As sy hom toets en albei plate werk gelyk, dan sê ek vir die mamma dit is om krag te spaar. Jy sit jou rys op die een plaat en jou vleis op die ander een. Dan glo sy my en betaal.

Die laerskool het een dag `n klomp reject skoene present gekry by `n fabriek. Hulle verkoop toe die pare skoene en ek vra of ek die res kan kry. Dit was almal linker-voete se skoene. Ek pak hulle mooi in papier in skoenboksies en verkoop dit aan die lorriedrywers. Hulle pas net een skoen aan en gee my R50, dan moet ek vinnig weghardloop voor hulle die ander skoen aantrek.

Op een Vrydag koop my vrou vir my nuwe skoene vir R300, Saterdag loop ek baie versigtig met hulle en Sondag verkoop ek hulle vir R30 of `n stop dagga. Ons nuwe slaapkamerstel het nie lank gehou nie, toe staan my klerekas in die merchant se huis. Ek het die matras deurgesny en my helfte vir drugs verkoop.

Ons het nou al vir 5 maande `n CAD groep in Heideveld.

Van my lede is daar –

Gershwin wat `n merchant was,
Bertram het alle soorte cocktails van dwelms gebruik,
nog `n lid is op 17 vir 15 jaar tronk toe vir dwelms smokkel en moord.

Ons het almal mense geskiet en geroof vir dwelms, nou het ons `n plig om die users, merchants en smokkelaars te expose, ons moet en kan mense help om op te hou dwelms gebruik. Ons moet by die kinders ook uitkom en hulle vertel dat verslawing begin by die optel van toppetjies om te rook. Ons as grootmense moet `n voorbeeld aan die kinders stel. Dit is hoekom ek nie rook of eers `n biertjie drink nie.

Daar is hoop terwyl ons nog lewe. Die Here het my verlos van verslawing, Hy kan jou ook verlos. Jy moet Hom net vra en dan glo en die regte ding doen. Saam met nuwe, skoon vriende by die CAD is dit baie makliker.

Ons het die DA se lid vir Athlone gaan vra vir die gratis gebruik van die Munisipale saal hier oorkant in Jonkershoekweg en sy het dit met een oproep gereël.

Maandagaande ondersoek dr. Chris Steytler mense gratis en ons CAD lede gee raad, Woensdae hou ons CAD vergadering om 1900, Saterdae doen ons spiritual dancing met so 80 kinders en Sondae hou ons kerk.

Dit is baie lekker om vir die Here te werk noudat ons verlos is van verslawing.

Prys die Naam van die Here. Halleluja. Amen.                      September 2010