GETUIENIS: Kleintjie Lues
Ek is Kleintjie Lues van Kroonstad.
Ek is al ongeveer 15 jaar aan en af by CAD, Kroonstad.
My pad het op 1996 begin skeefloop met drank. Op daardie stadium het ek deur ‘n moeilike tyd gegaan, met die afsterwe van my broer, wat oorlede is as gevolg van drank. Ek het gevoel dat niemand my verstaan en dat ek niemand het met wie ek kon praat nie, want ons was baie lief vir mekaar en baie naby aan mekaar.
Ek het geleidelik meer begin drink en het al hoe meer afhanklik van wyn geraak. Dit was omtrent ‘n jaar toe ek heeltemal vasgevang geraak het. My selfbeeld was baie swak, ek het myself van mense onttrek alhoewel ek steeds my huis perfek gehou het asook die versorging van my gesin en myself, sodat niemand my geheim moes ontdek nie. Ons hele gesin het uitmekaar gedryf. Elkeen in sy eie rigting, todat daar niks van my huwelik en gesinslewe oor was nie. Ek het op ‘n manier steeds bly werk en kon myself van drank weerhou terwyl ek gewerk het, maar het baie sleg gevoel soggens as ek werk toe gaan, en moes myself deur elke dag sleep.
Ek het besef êrens moes ek gehelp word en dat ek ‘n groot probleem het. Ek is toe na ‘n maatskaplike werkster by die hospital en het haar gevra om my weg te stuur vir behandeling en is toe na Aurora gestuur. Daarna was ek vir 1 jaar en 4 maande sober. Ek het gevoel dat ek my gesin ‘n guns gedoen het om vir hulp te gaan, maar dinge het net versleg by die huis.
My man het my begin aanrand en self begin drink. Dit was onder hierdie haglike omstandighede vir my maklik om weer te begin drink. Ek het aanhou werk en nooit my werk verloor nie al het dit hoe sleg gegaan. Ek kon myself net nie regruk of vastigheid kry nie. My man het my altyd by die werk afgelaai en kom haal. Eendag terwyl ek in die motor gesit het, het ek ‘n skeibrief in my id-boekie ontdek en gesien dat my man besig was om van my te skei! Ek het baie verneuk en verniel gevoel. Na die episode het hy my kakebeen afgeslaan. My een seun was matriek in daardie stadium. Ek het gesien my kind sal druip onder hierdie haglike omstandighede en het besluit om uit te trek ter wille van my kind. ‘n Interdik is teen my man verkry (Die werk het dit van my vereis). Daarna het hy geen respek vir my gehad nie.
Die maatskaplike diens het weer tot my redding gekom. Hulle het my hierdie keer Magallies-Oord toe gestuur. (13 Nov. 1999). In hierdie tyd het ek raad gekry om maar die egskeiding aan die gang te kry, aangesien my man in elk geval nie weer wou probeer nie. Na my rehabilitasie het ek by Voortrekker Hospitaal begin werk. Die omstandighede daar was vir my baie sleg. Ek was van myself afhanklik, het baie swaar gekry en is toe boonop geskei.
Daarna het ek weer iemand ontmoet. Ongelukkig het die persoon ook gedrink, dagga gerook en het hy my ook aangerand. Twee weke na my egskeiding is my man oorlede. My pa het ook baie siek geword in daardie tyd. Ek het probleme met my pensioen gehad. Alles was net sleg en verkeerd. (2002) Mev. Bosch (Maatskaplike Diens) het my weer weggestuur. Ek het niks meer omgegee nie, ek wou regtig nie weer vir behandeling gaan nie en het net gedrink en versleg.
Tydens die behandeling het ek verlof gekry om my siek pa te besoek en toe loop ek weg vir 1 maand, waartydens ek weer baie gedrink het. Die maatskaplike diens het my weer aangekeer en teruggestuur. In hierdie tyd is my pa oorlede en ek het hom nooit weer gesien nie. Alhoewel ek baie hartseer was en dit vir my ‘n baie slegte tyd was, het ek met die Here geworstel en baie nader aan Hom gekom.
Terug in Kroonstad, het ek baie hard probeer. Ek het op my knieë vir my kinders gesoebat om my te help want ek wou nie weer in my slegte gewoontes verval nie, maar my seun het gesê hy kan nie. Aangesien ek sonder heenkome of raad was het ek weer by my vriend gaan bly, wat my weer van voor af laat drink het. Eers was ek te bang om te drink, maar het later weer begin. Ons het in die industriële gebied in ‘n stoor gebly. Ek het op `n dag op die treinspoor gaan staan en tot God geroep en gevra waarnatoe.
Toe kry ek ‘n werk by die Palms (Tehuis vir Bejaardes). Ek het in ‘n skoolkoshuis gaan bly en het elke dag met ‘n fiets werk toe en terug gery. Ek was baie eensaam en het swaar gekry en kon glad nie “cope” nie, het nie geweet hoe nie.
Eendag toe ek oppad was met die fiets het ek myself baie jammer begin kry omdat my kinders my so sleg behandel en verwag dat ek op my ouderdom elke dag met ‘n fiets moes ry. Die bottelstoor het my al hoe meer begin roep. Ek het toe weer ‘n bottel en ‘n hamburger gekoop en gedink ek gaan myself bietjie “treat”. Ek het geval met my fiets en my arm gebreek en is toe maar terug na Henry toe. Selfde ou sirkel!
Eendag het ek begin voel, maggies, ek moet iets doen. Ek het in die tyd uitgevind ek het osteopirose. Ek het maandeliks my pensioentjie ontvang en blyplek bokant 2 “shebiens” gekry, omring van bottelstore. Ek het gewerk as skoonmaker vir mense, vir hulle gestryk en stuurwerkies gedoen. Dan het hulle my met drank betaal.
Henry het my eendag daar kom slaan omdat ek ‘n ander man se hemp gestryk het.
Ek was baie aan en af en het weer van CAD weggebly. Ek het geweet die Here was by my maar wou niks van Hom vra omdat ek my nie kon regruk nie en het elke keer baie vêr val. Ek was vreeslik skaam. Tog het ek kerk toe gegaan, al was ek hoe verdwaal. Ek het met die Here baklei. Geen inrigting wou my meer wou help nie, tensy ek
of iemand, vir die behandeling kon betaal. Ek het dinge met Henry gaan uitpraat, want ten spyte van die behandeling wat ek soms van hom ontvang het, het ek geweet hy was lief vir my en hy was altyd daar vir my. Henry het my egter weer aangerand en is toe tronk toe.
Ek het weer begin CAD en kerk toe gaan en het besluit dit is net ek en die Here. Ek het die Here gesoebat om my asseblief die nodige verstand te gee om te weet wat ek moet doen en het ook besef dat ek nog nooit hard genoeg probeer het om my kant te bring nie. Toe het ek met die Here ‘n ooreenkoms aangegaan, dat ek hard sal probeer. Ek het vir die mense begin sê dat ek nie meer drank as betaling wil hê nie en hulle het toe vir my geld begin gee, waarmee ek brood gekoop het.
Ek het ‘n briefie van Henry gekry waarin hy twee brode en ‘n pakkie twak wou hê. Dit was amper sy verjaarsdag. Ek het hom jammer gekry en goedjies gekoop en vir hom tronk toe gevat. Na `n gesukkel kon ek hom uiteindelik sien. Hy was hy vreeslik verwaarloos en ek was diep geskok en my hart was baie seer. Ek wou nie hê dat hy verlore moes gaan nie. Nadat hy uit die tronk gekom het, het ek vir hom help sorg maar glad nie ingeneem by my nie, want ek wou nie weer begin drink nie. Dit was baie moeilik om sober te bly onder die omstandighede, maar het besef dat dit my laaste kans is, en wou nou net die “ou lewe” agterlaat en vrede maak met ander mense wat my seer gemaak het.
MAAR DANKSY DIE HERE SE GENADE EN DIE HULP VAN CAD IS EK NOU 1 JAAR EN 7 MAANDE SOBER. EK VAT DIT UUR VIR UUR, DAG VIR DAG!!!!!!!
Ek is ook nou nader aan my kinders. Ek gaan Ouma word en is baie opgewonde!!