Getuienis Hannalie en JB

GETUIENIS: Hannalie Joubert

Getuienis: Hannalie Joubert

Die moed om jou storie te vertel……..

Ons het almal ‘n storie om te vertel. Nooit het ek gedink dat my storie ‘n getuienis vir Jesus sou word nie.

Ons is ‘n doodgewone gesin. Ek, Hannalie Joubert is in 1985 getroud met die liefde van my lewe, JB Joubert, die spreekwoordelike “Tall, dark and handsome” ou. Ons het twee pragtige dogters. Alkohol was altyd deel van ons huwelik. Dit het baie konflik versoorsaak, maar daar was altyd die beloftes van, “Dit sal nie weer gebeur nie”. Dit het egter progressief erger geword en die draaipunt was in 2009.

Op daardie stadium het ons op ‘n plaas gebly net buite die dorp. My oudste dogter het reeds gewerk en my jongste was in Graad 12. Ons gesin was besig om heeltemal uitmekaar te val. Vir baie lank kon ek hom beskerm en vure doodslaan en alles probeer bymekaar hou. JB het nou in die dag ook begin gebruik. So ons het nooit geweet hoe ons dag gaan eindig nie. Dit het baie spanning op my en my Gr. 12 dogter geplaas. Sy moes baie vinnig, baie gou groot word. Hierdie deel was vir my sleg, want ek kon nie meer die probleem vir haar wegsteek nie. Sy was nou ook deel van dit en die verleentheid was groot.

Die ergste van alles is, jy weet hy het ‘n probleem maar jy wil dit nie glo nie. Dit kan mos nie met jou gebeur nie. Mens lees net van hierdie goed in boeke. Jy beskerm hom die hele tyd en hoop en bid net hy maak nie foute nie. Dit is net tot sy eie nadeel, want op hierdie stadium kan hy nie meer self ophou drink nie. Ek het orals hulp gesoek maar op so `n manier ek nooit iemand laat verstaan het dit is vir my eie man nie. Familie was daar maar ook net tot op ‘n punt. As jy nie in die situasie is nie verstaan jy nie hoe seer dit is nie.

Ons het elke oggend stilte gehou. Na ‘n slegte vorige aand het hy altyd vir my gesit en wag om saam stilte te hou. Die man wat voor my gesit het, het ek nie meer geken nie. Dit was beslis nie “Tall dark and handsome” man met wie ek in 1985 getroud is nie. Alkohol het so vernietigende uitwerking. Hy was weerloos, magteloos, skaam maar tog ook opstandig. Ek het altyd soveel moed gehad nadat ons so stilte gehou het, maar dit het net gehou tot die eerste oproep om en by 12uur in die oggend. Dan wou ek in tienduisend stukkies breek. Ek het tot 2:30 gewerk en dan het die soektog begin om hom veilig by die huis te kry. Ek het op ‘n punt gekom wat ek van alles en almal onttrek het. Ek het nie met familie of vriende hieroor gepraat nie. Dit was net te seer. Ek het net by Jesus se voete gesit. Ek het so gebid vir ‘n wonderwerk.

Met ons jaarlikse Kermis by die kerk het JB by die vleistafel betrokke. Ek het nog die oggend gewerk en eers so teen 12 uur by die Kermis aangesluit. Ek het dadelik besef toe ek hom sien dat hy nie van die Kermis koeldrank gedrink het nie. Hy het ook ‘n blink pruik opgehad. Dit was ‘n Karnaval tema so jy kon hom nie miskyk nie.Hy het daardie dag vleissnitte verkoop wat ek nog nooit van gehoor het nie en dan sommer ook die resepte uitgedeel hoe om dit gaar te maak. Dit was die langste dag in my lewe. Hierdie verleentheid was net te groot. Ek het net besef ek moet iets doen. Na ‘n baie slegte dag en toe alles weer rustig is in die huis het ek gaan sit om stilte te hou. Ek het net voor die Here gehuil en gevra: “Gee my net iets sodat ek sal weet wat om te doen.” Ek moes of uittrek of hulp kry vir JB wat op daardie stadium glad nie wou ophou drink nie. Maar ek het net geweet dit is nie die man wat trou aan my beloof het nie. Soos in Samual 1:14-17 waar Hanna voor die Here gehuil het omdat sy nie ‘n kind kon gehad het nie het ek gehuil. Sy het die van God afgesmeek om haar te help. Dit is presies waar ek was. My Bybel het oopgeval by Rut 3:11….”Moet nou nie verder bekommerd wees nie, my dogter. Alles wat hy my vra sal ek doen, want die mense weet dat jy ‘n goeie vrou is.” Daar het ‘n vrede en rustigheid oor my gekom wat ek vir niemand kan beskryf nie. So het ek ook die volgende oggend opgestaan. Met ‘n verwagting en rustigheid wat net Jesus vir mens kan gee.

By die werk het ‘n konsultant my kom sien oor een van my polisse. Hy het ook vir JB baie goed geken en voordat hy met my die polis bespreek het hy vir my gesê hy is baie bekommerd oor JB, hy drink teveel. Hierdie afspraak was nie vooraf gereël nie. Ek het net geweet hierdie is my bevestiging. Ek moet iets doen. Dieselfde middag het ek vir René en Pikkie Combrinck van die CAD gaan sien. Hul is ook in ons gemeente en het gesien wat die Kermis gebeur het. Ons het besluit om die ingryping op JB te doen in samewerking met die kinders en ons Predikant. Die ingryping was, met die hulp van Jesus Christus, suksesvol en JB het erken hy het `n probleem en ingewillig om te gaan vie rehabilitasie. Vir almal was dit ‘n baie slegte en onseker tyd. Daarvoor was René en Pikkie daar vir ons. Die verligting om net te weet iemand verstaan hoe ons voel en die ondersteuning vir die 21 dae wat JB weg was kan ek nie in woorde beskryf nie. Maar die 21 dae gaan verby en hy moet terugkom huistoe. Jy moet mekaar van vooraf leer ken, vertrou en weer aan jou huwelik bou.

Jy verloor vriende, maar dit is alles die moeite werd.

Vandag kan ek terugkyk en net weet, Jesus het hierdie stukkie seer in my lewe toegelaat sodat ek weer vir ander vrouens hoop kan gee. Jy hoef nie stil te bly nie. JB het soveel keer self probeer om op te hou, maar ‘n afhanklike kan nie self ophou nie. As ek vandag na hom kyk sien ek nie meer die man met die blink pruik by die Kermis nie. Daardie blink pruik het plek gemaak vir ‘n goue kroon. Hy het opgestaan, sy hart vir Jesus gegee en outoriteit geneem van sy huis. My gebede is verhoor. Ons aanbid ‘n Groot God. Moet nooit ophou bid nie Hy sal jou nie los nie. Ek dink nie daar is drie dames wat meer trots is as ons drie Joubert’s nie. Hy het JB vir ons teruggegee. Dit is nou 2013. Om presies te wees sal dit die 12de Junie hierdie jaar 4 jaar wees wat JB nie meer alkohol gebruik nie. Hy is gesond, dit gaan goed in sy werk en sy dogters het so `n goeie verhouding met hom. Ek kan maar net sê: “DANKIE JESUS!”

Getuienis: JB Joubert

Die ingryping het totaal die matjie onder my uitgeruk. Ek het geweet ek het ‘n probleem, maar nie geweet hoe om op te hou nie. Ek was kwaad, verneder en almal was verkeerd behalwe ek. Self kon ek dit nie doen nie. Ek was vir 21 dae weg. Daar het ek werklik weer ‘n ontmoeting met Jesus gehad. Ek het so positief teruggekom. Ek is mos nou gesond als is mos nou weer reg. Nooit het ek besef hoeveel seer daar nog by my gesin was nie. Ek het hul bymekaar geroep en gesê dit het nou gebeur, ek is jammer en nou is dit verby nou kan ons aangaan. Dit was die verkeerdste ding om te doen. Vir twee jaar het hul nie ‘n voet verkeerd gesit nie, te bang ek begin weer gebruik. Ons het nooit werklik oor die seer gepraat nie.

Tot een aand. Ons het net lekker gesit en gesels. Weereens het daar iets van die verlede opgekom en vir die eerstekeer het die Heilige Gees my so bewus gemaak van wat in hul harte aangaan. Ek kon sit en luister, saam huil en selfs deur die trane lag oor die simpel goed wat ek aangevang het. Ek moes hoor hoe groot die vernedering vir my dogter was as ek dronk by die netbaloefening opgedaag het. Hoe swaar hul moes kry omdat ek nie kon voorsien in hul alledaagse behoeftes nie. Die sweer het oopgebars en ek kon OPREG sê EK IS JAMMER en dit bedoel!

Onthou teen die tyd wat jy vir behandeling gaan het jy al so drooggemaak dat min mense nog van jou hou. En dan kies jy ook die maklike uitweg en dit is om te skei. Jy laat almal verstaan dit is nie jou skuld nie. Iemand moet die skuld kry! Ek het ‘n tweede kans gekry. Ek kan vandag nie genoeg dankie sê vir dit wat die Here in my lewe toegelaat het nie nie. Daar is baie JB’s daar buite wat nie wil erken of jammer sê nie. Nadat ek en my gesin oor alles kon praat en huil en ek OPREG jammer sê kom al die ou stories van die verlede nie meer op nie.

Dit is nie meer nodig nie. Jesus het die seer genees.

Dit is ongelooflik hoe my gesin my bygestaan het en nog steeds doen. God laat slegte goed in jou lewe toe sodat jy die goeie kan raaksien.

As ek raad kan gee, moenie twee jaar wag voordat jy OPREG om verskoning vra nie. Hulle het nie die fout gemaak nie! Wees ‘n man en kruisig die eie ek, dan alleen kan genesing plaasvind.
Ek ken niemand waarmee dit slegter gaan nadat hy opgehou gebruik het nie.

Aan my vrou en twee dogters. Dankie dat jul nooit ophou bid het nie. Nooit opgegee het nie en my nog steeds elke dag ondersteun. Dit is baie belangrik om dadelik by ‘n ondersteuningsgroep in te skakel.
Ek het dadelik by die CAD ingeskakel en doen dit nog steeds elke week.

Alle eer aan God die Vader by wie niks onmoontlik is nie. Self sou ek dit nie kon doen nie.

this on my own!