Getuienis Esta Delport

Getuienis Esta Delport

My naam is Esta. Ek is 38 jaar oud en die ma van ‘n pragtige dogter.

Hierdie is my storie… ‘n Storie wat soos enige ander vol belofte begin, draai by die seer in die lewe maak en weer eindig waar ek bou op oorwinning en hoop.

My ouerhuis was ‘n veilige hawe waar ons elke aand saam Bybelstudie gedoen het en goeie maniere en respek vir mekaar en ons naaste geleer is.  Ek en my twee ouer broers was ‘n stoute, besige klompie. Ons dae was vol sonskyn en leer aan die sy van ‘n pappa wat die geduld van die wêreld gehad het, altyd graag ons vrae beantwoord het en met die kwellinge van die lewe bygestaan het. Ek was die “goue sterretjie” -tipe:  huiswerk altyd gedoen, kamer aan die kant en boonop hoflik en stil. My middelste broer was die dromer en Ouboet was net dit:  die beste Ouboet wat ‘n kind voor kon wens – altyd daar om te help en te lei.

Die eerste draai weg van die idilliese prentjie was toe my pa skielik in my tienerjare na die bottel begin gryp. Toe vind ek uit dat my pa in my kleintyd met alkohol-afhanklikheid gesukkel het, maar vir ‘n tydperk van meer as 14 jaar ophou drink het en toe in my tienerjare weer teruggeval het. Soos enige ander dogter het ek my pa as voorbeeld voorgehou en met hierdie nuus is die mat onder my voete uitgeruk. Ek het deur die wêreld verkul gevoel en baie sinies oor die lewe geraak.

Ons het ‘n hele paar jaar so geleef: periodes van nugterheid wat afgewissel is met periodes van totale oorgawe aan die bottel. Gedurende hierdie tyd het ek, wat van nature skaam en skugter was, my heeltemal van mense onttrek en my op my skoolwerk toegespits.

‘n Week na my 21ste verjaarsdag het my middelste broer selfmoord gepleeg. Dit het as’t ware die lewens-asem uit my ouers geslaan. My pa het dit hanteer soos wat hy enige ander krisis sou:  hy is terug na die bottel. My ma wat op daardie stadium al na aan breekpunt was na jare van ondersteuning aan my pa, het heeltemal ingegee. So het die las van die huishouding op my neergekom en ek het die juk opgetel asof ek myself my hele lewe lank daarvoor voorberei het. My enigste voorneme was dat ek, die betroubare een, NOOIT sou drink nie. Nie eers sosiaal nie.

Ons het as gesin teruggetrek na my pa se geboortedorp, Kroonstad. Ek het daar begin werk en het my man by my werk ontmoet. Hy was baie lief vir mense en was altyd omring deur vriende – uit die aard van die saak was daar altyd alkohol betrokke by die kuiery en so het ek sosiaal begin drink.  Die gebruik van alkohol het my op daardie stadium glad nie gepla nie en ek het nie eers twee keer gedink oor my familiegeskiedenis van alkohol-misbruik nie – so iets sou mos nie met my gebeur nie, het ek geglo.  Geleidelik het alkohol ‘n al hoe groter rol in my lewe begin speel, maar in ons vriendekring was dit aanvaarbare gedrag – almal het so gelewe. Geen kuier is gereël sonder dat die drankies eerste gekoop is nie.

Ek en my man was mekaar se grootste vriende. Dit het gevoel asof ons al meer as een leeftyd saam deurgebring het – so groot was ons liefde vir mekaar. Ons het absoluut alles saamgedoen. Om weg van mekaar te wees was nie eens ‘n opsie vir ons nie.

Ons is na 2 jaar van getroude lewe uiteindelik met die aankoms van ‘n pragtige blou-oog dogtertjie geseën. Haar pa se ewebeeld en trots.  Ongelukkig het nie alle sprokie-liefdesverhale ‘n gelukkige einde nie… Hy is na 5 gelukkige jare saam oorlede nadat ‘n blindederm-operasie skeef geloop het. Ons dogtertjie was toe maar net 2½ jaar oud.

Ek kon nie glo dat die Here so iets aan my kon doen nie. Ek het nog altyd my deel van die verbond nagekom en kon nie verstaan hoe Hy my so kon straf nie. Soos ‘n hardkoppige tiener het ek in my woede die deur van my hart in Sy gesig toegeklap en my rug op Hom gedraai.

My werkgewer op daardie stadium was ongelukkig nie ideaal vir my gemoedstoestand nie. Sy het self baie en hard ook gedrink. Haar eerste woorde aan my nadat ek haar met die slegte tyding van my man se afsterwe gebel het was: “Wat het jy in die huis om te drink?”

Ek het glad nie teëgestribbel om die bottel vir troos nader te trek nie.  Ek het die verskoning gehad dat dit die tyd laat verbygaan het. Die angel is uit leë nagte en hartseer dae gehaal. Geleidelik het die monster van afhanklikheid my al hoe stewiger in sy greep vasgehou en my afgetrek in die donker maalkolk van pyn, droefheid, selfverwyt, leuens, skaamte en depressie.

Niks anders as ondeurdringbare swart kan as kleur voorgestel word vir daardie tyd in my lewe nie. My lewe was vir my niks meer werd nie. Nie eers my kind was vir my genoeg om die kettings van drankmisbruik te breek nie. Ek het my probleem (soos talle voor my) goed weggesteek, maar tog skemer die waarheid uiteindelik deur. Die hartseer is dat niemand namens my vryheid kon beding nie, net ek self kon daardie stap neem. Ek was aanvanklik hartkoppig en het geglo dat ek beslis nie ‘n probleem gehad het nie. Almal het oorreageer. Ek het net by my eie huis gedrink en het  mos niemand daar gepla nie, het ek redeneer. Hoe kon enige een ooit so iets van my dink?!

Die Here het my hand nooit gelos nie, al het ek so gedink. Hy het na byna 4 jaar van vernietigende gedrag (waarvan die laaste paar maande die ergste was) dit goedgedink om met mag en mening ‘n ommekeer in my lewe teweeg te bring. Ek het uiteindelik my bande met my werkgewer verbreek en ‘n nuwe werk gekry. Daar het my lewe verander. My nuwe werkgewer was (en is) ‘n Godvresende mens waaruit die liefde van Jesus straal.

Toe ek na ‘n maand die waarheid van my omstandighede aan hom verklaar het hy my nie weggewys nie, maar my aan die hand geneem en gesê dat indien ek bereid was om die pad na soberheid en verlossing te stap, hy elke tree langs my sou wees. Ek het in dieselfde tyd na ‘n nuwe huis getrek en dit was asof die Here my geheel en al van my verlede wou verlos. Ek het geen van die ou kennisse meer gesien nie en glad nie kontak met enigeen uit my vorige lewe gehad nie. Ek het dadelik by die CAD en my plaaslike gemeente ingeskakel.

Die pad na soberheid was nie maklik nie. Ek het aanvanklik verskriklik gesukkel om die gewoonte te breek, maar nadat ek die laaste versoeking absoluut pro-aktief teengestaan het, is ek ten volle verlos. Die genade van Jesus Christus is so groot in my lewe, dat ek daarna nog nie ‘n enkele dag weer lus vir alkohol was nie.

Die eerste paar maande het ek myself so besig met allerhande dinge gehou dat ek elke aand doodmoeg in die bed neergeval het -alles net sodat ek die gewoonte van elke nou en dan na ‘n glas reik kon breek. Ek het ‘n verhouding met Jesus begin opbou soos wat ek nog nooit in my lewe gehad het nie. Deur dit alles het ek gesorg dat ek elke week by ons plaaslike CAD-vergadering uitkom en elke aand het ek absoluut blymoedig by die huis gekom – gevul met bevestiging vir my lewe en Jesus se liefde. My dogtertjie het naderhand begin opmerk dat sy uitsien na Dinsdagaande se tuiskoms, want “Mamma is so vriendelik en bly as Mamma na die CAD huis toe kom.” Hoe sê hulle? Uit die mond van die suigeling hoor jy die waarheid. Ek neem dit as bevestiging vir my “nuwe”  lewe.

My leuse vandag is:  “Been there, done that, ain’t never gonna go back.”

Dit is nie skielik maanskyn en rose nie, maar my God se tasbare betrokkenheid in my lewe verseker my dat ek die regte ding doen en gee my hoop vir die toekoms. Niks in hierdie lewe is dit werd om terug te gaan na die lewe van afhanklikheid nie. My lewe sonder drank is lekker, vry en vol belofte!

 

Esta Delport