Getuienis Linda Lourens

GETUIENIS: LINDA LOURENS

Soos die gesegde lui:  “Meng jou met die semels” Nee, kom ek trek my woorde terug, want ek het wonderlike vriende in die verlede gehad – ons was net almal “onkundig”. Hoekom sê ek so?  Vrydag was altyd Drinkdag. Dit was ‘n dag waarna ons baie uitgesien het. Ek self kon naderhand nie wag vir Vrydag om aan te breek nie…

Drinkdag het sommer hier teen 12 uur op ‘n Vrydag reeds begin en dan aangegaan – soms tot na middernag. So het ons van die een kroeg en dansplek na die volgende gekuier. Saterdae het ek dan uitgesien na 10 uur, want dan “was die vliegtuig mos oor“ – dan is die eerste bier oopgemaak. Nodeloos om te sê was die res van die naweek dan nutteloos en gemors. Menigte kere kon ek nie eens onthou watter pad ek huis toe gery het nie. Vandag kan ek net die Here prys vir Sy wonderlike genade en beskerming oor my omdat ek net nooit ‘n ongeluk gemaak of veroorsaak het nie. ‘n “Joint” (dagga) saans het my slaappil geword.

Die dag toe ek SELF besef het dat drank en dagga vir my ‘n probleem is en dat dit werklik geen goeie gevolge vir my inhou nie, het ek my hand na God uitgestrek: “Help my asseblief, Here, want alleen kan ek nie!”. Ek het Jesus as my Verlosser en Saligmaker aangeneem en my lewe het handomkeer verander. Vir die afgelope paar jare is my dagboek reeds vir elke Maandagaand uitgeboek. Ek het ook betrokke geraak by die CAD (Christelike Afhanklikheidsdiens). Die CAD se ondersteuningsgroepe kom weekliks regoor die land bymekaar.

Ek weet hoe moeilik dit is om daardie berg alleen uit te kom, daarom wil ek jou aanmoedig om deel te word van die CAD of selfs ‘n CAD ondersteuningsgroep te begin. Gee JY die eerste tree, Jesus ken jou hart, Hy sal jou bystaan. Die CAD maak dit net makliker. Tussen dié mense voel jy dadelik tuis, hier kan jy jou moeilike tye met ander wat regtig verstaan deel.  Die CAD is die plek waar mense omgee vir JOU en die mense naby aan jou.

Hoekom nie vandag die besluit neem om ‘n sober en vredevolle toekoms in te gaan nie? Jy IS ‘n uitverkorene wat ander kan help om ‘n sober lewe te lei. Onthou:  Niks is by Jesus onmoontlik nie!

 

Jesus liefde

Linda Lourens

Voorsitter:  CAD Jakaranda