KINDERS VAN ALKOHOLISTE
AANVAAR DIE UITDAGING OM HULLE TE ONDERSTEUN
Junie 2007
‘N VOORLEGGING AAN DIE NASIONALE KOMITEE VAN DIE CAD: NA AANLEIDING VAN ‘N GESPREK TYDENS ‘N JAARVERGADERING VAN DIE CAD WES EN SUID KAAP, JUNIE 2007
- 1. INLEIDING
By ons onlangse Jaarvergadering 16-17 Junie 2007 het ons as gebied weer oor hierdie belangrike onderwerp besin, naamlik die ondersteuning wat daar gebied word aan skoolgaande kinders van alkoholiste. Ons wil graag die hoofpunte van die bespreking op nasionale vlak deurgee. Die gesprek is gelei deur Nioma Venter[1], ‘n voormalige gebiedsorganiseerder van die CAD.
- 2. AFBAKENING VAN DIE GESPREK
Dit is belangrik dat ons sal saamstem oor die volgende drie punte voordat ons verder oor die uitdaging kan praat:
2.1 Ons moet weet en saamstem dat kinders van alkoholiste, net soos die ouers, wel HULP NODIG het
Ek gaan nie ‘n lang argument hiervan maak nie, hoewel daar baie inligting beskikbaar is as ons in meer diepte hieroor wou besin. Die feit is dat kinders van alkoholiste ‘n hoë risiko groep vir afhanklikheid, vir fisiese en psigiese en veral vir emosionele probleme is. Dit is ook waar dat meer as 50% alkoholiste uit huise kom waar alkohol misbruik is.[2] Wat meestal egter gebeur, is dat die ouer(s) vir behandeling gaan en die kinders ongesiens maar net sonder enige begeleiding nagelaat word. Die rede hiervoor is ‘n teenargument wat netsowel ‘n groot leuen genoem kan word, naamlik:
DIE LEUEN: AS DIE OUERS REGKOM SAL DIE KINDERS REGKOM
2.2 Ons moet weet en saamstem dat daar WEINIG GELEENTHEID vir kinders van alkoholiste is om wel ondersteuning te kry
My eie navorsing het bewys dat behandelingsentrums hoofsaaklik op die volwassenes fokus en kinders hoogstens vir ‘n gesinsterapiesessie of twee betrek word. Dink terug aan u eie behandeling. Hoeveel van u se kinders het dieselfde mate van behandeling as uself, of ten minste ‘n fraksie daarvan ontvang?
‘n Onlangse internetsoektog in voorbereiding op hierdie gesprek het bevestig dat daar feitlik net AL-ANON en andersins Amerikaanse of Europese programme
beskikbaar is en selfs dan ook selektief. Ek kon feitlik NIKS in Afrikaans op die internet vind nie (sonder om daarvan ‘n redekaweling oor Afrikaans op tou te sit – dit gaan bloot maar vir my oor diensbaarheid. Dieselfde argument sou vir Xhosa of enige ander inheemse taal kon geld). Nou is dit ook so dat slegs 6% Suid Afrikaners oor internetgeriewe beskik, maar immers kan ‘n onderwysers, ‘n predikant, ‘n maatskaplike werker, ‘n ondersteuningsgroep, ‘n ouer toegang tot ‘n internet êrens kry om inligting te bekom om kinders mee by te staan. Net jammer dat dit nie bestaan nie!
Die min geleenthede is deels omdat dit ‘n baie gekompliseerde veld is om in te werk. Deel van die komplikasie is om kinders van alkoholiste bymekaar te kry in groepe, maar dit is alleenlik wanneer ons aan ondersteuning van kinders op dieselfde manier dink as wat ons aan ondersteuning van volwassenes dink.
GEWAARWORDING: DIE CAD HET ‘N VERANTWOORDELIKHEID – dit is die veld waarin ons werk (daar waar ons geplaas is / geroepe is). Ons moet só oor die situasie dink asof daar niemand anders is wat hiervoor gaan instaan nie.
- 3 Ons moet weet en saamstem dat ons nie op DIESELFDE MANIER aan ondersteuning van kinders van alkoholiste kan dink as die konsep waarop ons CAD-groepe werk nie
Ons het reeds gesê dat dit moeilik is om die kinders in groepe saamgetrek te kry (geografies en andersins). In 1998 het ons wel ‘n groep, die TEENCADS by Ramot, tydens Ramotaande byeen gehad. Die problematiek van kindergroepe lyk min of meer as volg:
- Dit is baie blootstellend en soms onmoontlik vir kinders, veral as hul ouers nie self ook in groepe is nie, dalk nog nie eers gerehabiliteer is nie. TEENCADS wou vriende na die groep bring wie se ouers drink, maar die drinkende ouers wou die maats nie toelaat om te gaan nie;
- die kind se ‘gereedheid’ om gehelp te word is baie afhanklik van waar sy/haar ouer(s) in die proses is;
- kinders kan nie op hulle eie kom nie en is afhanklik van vervoer;
- as die ouer se belangstelling in nasorg vervaag, verhoed dit meestal die kind ook om te kom;
- die verspreidheid van kinders tussen CAD groepe maak dit feitlik onmoontlik om in groepe met hulle te werk.
3. OPSKERP OP SEKERE FEITE AANGAANDE HULP AAN KINDERS VAN ALKOHOLISTE
Kom ons skerp ons net met ‘n gedagte of twee op in terme van die omgewing waarin kinders van alkoholiste hulle bevind.
3.1 Funksionele en disfunksionele gesinne
Ons weet dat daar geen volmaakte gesin is nie. Nietemin is daar addisionele druk op die gesin waar alkoholisme voorkom en kan ons dus van so gesin as ‘n disfunksionele gesin praat. Hier is ‘n paar realiteite waarmee kinders in so gesin moet deel en wat bydra tot die emosionele probleme en onsekerhede van die kind.
Ideale gesinsopset: oop kommunikasie
Disfunksioneel: “rule of silence” (leuens)
Ideale gesinsopset: stabiliteit en sekuriteit
Disfunksioneel: onsekerheid – konflik – egskeiding (afwesigheid); soms ook fisiese onveilige omstandighede!
Ideale gesinsopset: Wedersydse respek vir mekaar – liefdevolle ondersteuning
Disfunksioneel: swak rolmodelle – selfbeeld
Opgesom: Die disfunksionele gesin skep ‘n omgewing waarin die kind se risiko vir ontwikkeling van emosionele en gedragsprobleme verhoog word.
Bogenoemde is bo en behalwe die genetiese risiko van oorerflikheid. Hoewel medici en kenners ook baie hieroor verskil het ‘n studie in 1999-studie weer bewys dat een uit elke vier kinders van alkoholiste self ‘n afhanklikheidsprobleem ontwikkel, teenoor een uit elke tien kinders uit gesinne met geen geskiedenis van alkoholisme nie. As dit dan enige iets bewys, bewys dit maar net weer dat ons eerder die uitdaging moet opneem as om dit te ignoreer en hoop “dit kom vanself reg”.
3.2 Doelwitte wat ingebou moet wees in ‘n program vir kinders van alkoholiste
Met alles wat tot nou gesê is kan ‘n mens begin wonder hoe en waar op aarde ‘n mens moet begin om hierdie uitdaging aan te pak. Die goeie nuus is dat ‘n program vir kinders van alkoholiste JUIS NIE GEKOMPLISEERD moet wees nie. Daar is basies net DRIE DOELWITTE wat in sodanige program ingebou moet wees.
A: Dit moet die kind toerus met KENNIS oor alkoholisme
B: Help om sy/haar GEVOELENS rondom die ouer se probleem te verstaan
C: Bewusmaak van die moontlike negatiewe impak op sy/haar eie lewe – en hierdie risiko minimaliseer (LEWENSVAARDIGHEDE)
Natuurlik moet elkeen van hierdie doelwitte uitgebou word, opgevul word,
aangevul word, ingekleur word…
Die Amerikaanse National Assosiation for Children of Alcoholics het ‘n 7 punt
program wat ook nogals oulik is. Hulle noem dit die SEVEN C’s. Dit is ‘n program
waarvolgens onderwysers opgelei word om kinders by te staan. Hulle leer
kinders die volgende:
THE SEVEN Cs
I didn’t CAUSE it
I can’t CURE it
I can’t CONTROL it
I can help take CARE of myself by
COMMUNICATING my feelings
Making healthy CHOICES and
CELEBRATING me
- KOM ONS RAAK PRAKTIES
Ek hoop van harte dat ons op hierdie stadium dieselfde dringendheid aanvoel. Die CAD moet iets doen. Wie anders?
Waar begin ons?
Dink buite die boks
Dink in terme van sisteme
Dink nuut EN kreatief
Dink jonk
Wat bedoel ek hiermee?
As ons nie dink in terme van CAD-groepe nie, wat anders?
Dink in terme van vennootskappe - dit is die sisteme in ons gemeenskappe waar ons funksioneer: die kerk, die skool, oumas en oupas, jeugwerkers, AA, die polisie… Hoe kan ons hulle toerus? Ons hoef nie direk met die kinders kontak te hê nie. Die tipe inligting waarmee hierdie kinders ‘bedien’ moet word is nie eksklusief vir kinders van alkoholiste nie. Ons rus dalk ‘n maatjie toe om ‘n maat te ondersteun. Die aard van die inligting is SO RELEVANT vir elke jongmens vandag, met inagname van die groot insidensie van alkohol en dwelmmisbruik onder die jeug. Die invloedsfeer van die tipe inligting kan selfs ‘n kind help wie se ouer NIE drink nie! Dit beteken dus dat groepe kinders as sulks toegespreek, bereik kan word sonder dat die kinders van alkoholiste noodwendig uitgesonder, uitgelig, uitgeroep hoef te word.
Dink in die idoom van post-moderne jongmense: PC-games, DVD’s, films, avontuurkampe, ‘n “chat-room” op die CAD se webblad (wat het terloops van die webblad geword – ek kon dit nie opspoor op die internet nie?)
.
Dit is al ‘n mondvol gesê. Ek is besig om ‘n dinktenk te stimuleer. Gedagtes wakker te maak. Die CAD lus te maak, te motiveer, bewus te maak van ons roeping. Entoesiasme te roer (en-theos beteken vanuit God, wat vir my net een ding sê: As die enoesiasme begin roer, is dit ‘n geestelike ervaring – ‘n roepstem waarvan ons bewus raak).
Maar wat sit ons in die hand van mense wat kinders bereik?
Ons sal aan die werk moet spring. ‘n Dinktenk aan die gang moet kry. Professionele mense moet betrek om ons te help. Ons moet materiaal in die hand kry, ontwikkel en ontwerp om aan ons groepe deur te gee. My aanvoeling is dat die omvang van hierdie projek op NASIONALE VLAK aangepak moet word. Dat ‘n besigheidsplan met ‘n begroting in plek moet kom. Dat borge gekry moet word. Dat die produkte ontwerp moet word en dan kan ons begin om op STREEKSVLAK ons groepe toe te rus. Kom ons DOEN DIT!!!
Hier is nog ‘n paar breingolwe:
4.1 Frans Cronje Studio’s in Bloemfontein is toegewyd aan die maak, aankoop en verspreiding van geestelike films. Hoe kan hulle ons help?
4.2 ‘n Sanger soos Jan Blom skryf diep Afrikaanse musiek oor emosionele worstelings met die lewe. Wat van ‘n road-show saam met hom as ROLMODEL (beskermheer/Idol) van die TEENCADS-bewusmakingsveldtog.
4.3 Aldo Krige is ‘n bekende spreker oor die onderwerp van dwelmmisbruik. Ken hy ons? Ken ons hom? Kan ons saamwerk?
4.4 PC-games: NACOA praat in hulle handleiding van games wat beskikbaar is. Koop die goed aan. Engels is ook nie heeltemal van die bose nie – INTEENDEEL – die kinders is mos goed tweetalig as dit by die TV en by speletjies kom. So bereik ons in elk geval ‘n wyer teikengroep met engels as voertaal.
4.5 BADISA reël dikwels kampe vir kinders in pleegsorgplasing en minderbevoorregte kinders. Vra of CAD nie ‘n vennoot kan raak in die reël van kampe nie – kry sprekers wat op die kinders se vlak die ding kan doen.
4.6 Wat het ons vir die nie-drinkende ouer – ‘n werkboek of iets om in die hand te sit as hy of sy hulle kinders wil begelei tydens die behandelingsperiode. As AA kan, kan ons mos, of hoe?
4.7 Wat van die jaarlikse Jeugdag in Junie? Hoe lyk dit met ‘n Jeugindaba waarheen alle skole in die Wes Kaap se jeugleiers genooi word en toegerus word as portuurgroepberaders?
4.8 Wat van samewerking met ATKV? ‘n Opstelkompetisie of ‘n redenaarskompetisie oor alkohol en dwelmmisbruik.
Die oomblik as ons BUITE DIE BOKS begin dink hieroor, besef ons dat ons nie praat van ‘n weeklikse byeenkoms nie, maar dat ons praat van ‘events’, materiaal, toerusting, hulpmiddels wat in plek is, infiltrering van bestaande sisteme.
So: WAT IS ONS VOLGENDE STAP? Enige so tipe projek het ‘n CHAMPION nodig – iemand wat dit dryf. Is daar so iemand in die CAD self of moet ons in ons bestaande vennootskappe begin soek na iemand wat as voorsitter/sweep van só ‘n projek kan dien?
Durf ons dit net hier laat??!! Kom ons begin…dit is nooit te laat nie.
[1] Nioma Venter het in 1999-2000 ‘n meestergraadverhandeling (Cum Laude) oor hierdie onderwerp aan die Universiteit van Stellenbosch geskryf. ‘n Artikel is na aanleiding van die verhandeling in ‘n professionele Maatskaplike Werk tydskrif gepubliseer. ‘n Afskrif van die artikel is by Nioma beskikbaar by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
[2] National Assosiation for Children of Alcoholics, A Kit for Educators, p.3 (www.nacoa.org). Kopiereg verleen om te kopieer en te versprei. VIND OOK ‘N KOPIE VAN HIERDIE DOKUMENT AANGEHEG.