Nuus

CADLogoOld

Boodskap vir 2017

Die jaar wat vir ons voorlê wat nie glo aan wat “die sterre voorspel” nie, kan dit met groot verwagtinge aanpak omdat ons weet ons Leier, Jesus Christus bepaal hoe dit sal verloop.

Hy het self in Lukas 11:13 gesê: “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”

Ons kan hierdie jaar aanpak met die wonderlike wete dat Jesus ons deur hierdie jaar sal dra en ons sal wys wat ons kan doen om die CAD meer relevant te maak.

Dr Caroline Leaf skryf in haar boek: Maak `n kopskuif: “Soos wat jy dink, so is jy”. Die Woord sê in Rom. 12:2: “Laat julle lewe verander deur julle denke te vernuwe”. Die boodskap is duidelik: As ons negatief is (deur ons denke en dit wat ons spreek) dan sluit ons die hemel volgens Matt. 16:19 toe en sal daar nie vooruitgang in die CAD wees nie!

Kom ons vra Jesus om ons te help om in hierdie jaar positiewe dinge oor die CAD te dink en te spreek. Verwyder negatiewe gedagtes soos: die CAD is maar net `n deurgangshuis waar mense sober word en dan verdwyn, of ons sukkel omdat ons min fondse ontvang en nie kan doen wat noodsaaklik is nie, ens. Raak positief en vertel aan almal dat hierdie dié jaar is waar alles wat ons nog graag in die CAD wou doen, met die hulp van Jesus Christus gaan gebeur. Wees opgewonde omdat ons Leier, Jesus, tot alles in staat is en as ons in geloof vra, belowe Hy dat ons dit sal verkry.
`n Geseënde 2017 word aan almal toegewens.

René Combrinck

CAD Logo

Christusfees 2016

Kom ons jubel en juig oor die grootste gebeurtenis wat nog ooit in die wêreld plaasgevind het: God het uit liefde vir ons, Sy kosbaarste geskenk in Jesus Christus gegee!

Jesus was gewillig om Sy Hemelse status op te offer om vir ons, wat Hom aangeneem het as Saligmaker en Verlosser, vir ewig van die sondelas te kom verlos. Al het Hy geweet wat dit sou kos om die volmaakte offer te word, het Hy nie teruggedeins vir die prys wat Hy daarvoor moes betaal nie. Die pyn wat Hy moes ly, die bespotting wat Hy moes dra, die verwerping wat Hy moes beleef, kon nie opweeg teenoor Sy alles oorheersende liefde vir ons nie. Om ons vry te maak van die sonde, vir ons die vyand en die dood aan die kruis op Golgota te vernietig sodat ons vir ewig saam met Hom in die hemel kan woon, was Sy grootste en enigste doel hier op aarde.

Kom ons jubel en juig op 25 Desember oor die koms van Jesus Christus, Weet verseker Hy het na die aarde toe gekom sodat niemand verlore hoef te gaan nie, maar vir ewig kan lewe. (Joh. 14:16)

Ons feesvierings moet Hom eer en verheerlik en daarom nie met uitspattighede of ‘n oormaat van alkohol of dwelms gepaard gaan nie. Wees dankbaar vir wat Jesus vir jou onverdiend gedoen het en vertel dit aan almal sodat die mensdom die ware betekenis van Kersfees kan verstaan.

n Geseënde Christusfees word aan al ons lede en hul families toegewens.

René Combrinck